Swartland Sosiaal ‘spesiaal en bon vivant’
promosie
Die heerlike Swartland Sosiaal Wynfees keer eersdaags (op 28 Oktober) terug, en die tweede aflewering van dié fees van heilsame plattelandse gasvryheid en plesier by Org de Rac buite Piketberg gaan weer ’n moet-doen bon vivant-affêre wees.
Só sê Carien Hugo-Waring, die stigter en organiseerder.
“Swartland Sosiaal is terug met ’n groot trompetgeskal. Ons is baie bly om terug te wees – hierdie keer by een van ons streek se bekendste wynkelders.”
Sy verseker: “Die geleentheid sal lankal verby wees as die finale afskop van vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi om 21:00 gebeur. Om die waarheid te sê, Swartland Sosiaal sal die perfekte manier wees om op te warm en jou wynvoorraad aan te vul!”
Die fees vind by Org de Rac se herehuis met sy grasperke en stoep plaas. Met opwip-kosstalletjies, piekniek en lewendige musiek is dit die perfekte geleentheid om die produkte van die Swartland se bekendste wynkelders te proe.
Kaartjies word weer beperk tot 400 en is by Quicket beskikbaar. Slegs volwassenes word toegelaat en kaartjies (R350pp) sluit ’n safari-styl wynproe van Swartland wyne en ’n R50 koopbewys jeens jou eerste wyn-aankope in. Die vol orkes van Newton & Co sal musiek maak.
Daar is ook ‘n opsie vir die aangewese nugter bestuurders met spesiale “Designated Driver”-kaartjies teen R200pp. Dit sluit ’n R50 kos-koopbewys en bottel water in. (Dié kaartjiehouers sal ’n uitkenbare armband dra, wat aandui dat hulle nie alkohol sal neem nie.)
Daar is ook pendeldienste vanaf Kaapstad beskikbaar wat wyn- en kosliefhebbers aanmoedig om te kom proe, wyn te koop en net te ontspan. Behalwe dat jy jou eie piekniekmandjie kan bymekaarsit, bied Swartland Sosiaal ook ’n keldertoer en vatproe-ervaring; ‘n “Serious Sippers”-sitkamer wat drie meesterklas-proeë insluit; en ’n Cap Classique-en-oesterkroeg, aan.
Die geleentheid duur van middagete tot 17:00.
Buiten Org de Rac, neem ander wynkelders waaronder Riebeek Valley Wine Co, Pulpit Rock-wyne, Huis van Chevallerie, Leeuwenkuil Familie-wingerde, Arbeidsgenot-wyne, Winkelshoek-wynkelder en Wildehurst-wyne (Koringberg) asook Brookdale Landgoed in die Paarl en Deetlefs Wynlandgoed naby Worcester ook deel.
Geen hongerpyne
Vir die kosfoendies word tafels en piekniekstyl-sitplekke uitgelê en varsgebakte brode van Moorrees, klaargemaakte etes (waaronder stadig gerookte gepluisde bees-rolletjies, vegetariese quiche en soetgoed) en piekniekmandjie-items (soos spesiale kase, patees, konfyte en seisoenale vrugte) met komberse sal deur opwip-stalletjies verkoop word. By die Cap Classique-en-oesterkroeg sal ’n glas borrels en Weskus-oesters beskikbaar wees.
Daar is ook ‘n beperkte aantal kaartjies beskikbaar vir fees-bonustoere deur die Org de Rac-kelder aangebied deur wynmaker Lizelle Gerber. Deelnemers sal die geleentheid kry om eerstehands te hoor van die wynkelder se volhoubare boerdery- en wynmaakmetodes en nuwe vrystelling-oesjare uit vate en tenks kan proe. Die geleentheid om beperkte vrystellings te ervaar.
Hierdie kaartjies is beskikbaar op Org de Rac se webwerf.
Vir die ernstige proeërs is daar ’n begeleide trio meesterklasse aangebied deur wynmakers van die fees se deelnemende plase. Hierdie “Serious Sippers”-sitkamergleuwe kan op die dag bespreek word, maar is beperk tot 20 mense per tydgleuf.
Vir meer inligting oor die Swartland Sosiaal Wynfees, volg SwartlandSosiaal op Facebook en Instagram of epos info@moorrees.co.za.