Sports

Hopefield verstewig posisie op die punteleer

Piketberg se Rhinos het Saterdag in die Boland se Grootuitdaagliga (Weskus) van meet af aangeval en die een aksie na die ander geloods in hul wegwedstryd teen Hopefield.
Hulle het fase op fase afgedwing en die tuisspan binne die eerste minute gedwing om ‘n strafbare fout te begaan. Piketberg se losskakel, Waydon Baadjies, het hierop die bal moeiteloos oor die dwarslat laat seil.

Die sterker skrum van Hopefield kon minute later daarin slaag om oor die doellyn te dryf en hul agsteman, Kenan Roman, weg te stuur vir sy eerste drie. Met ‘n suksesvolle doelskop deur die stelskopper en heelagter, Girshton Gurah, het die tuisspan met die telling op 7-3 in hulle guns reeds begin bloed ruik.
Hierna was dit eenrigtingverkeer met Hopefield wat die drieë behoorlik begin inryg het.
Roman se tweede drie het laat dink aan ‘n ‘copy-and-paste‘-situasie waar Hopefield met dieselfde taktiek vorendag gekom het om hom langs die pale oor die doellyn te laat gaan. Met die telling op 14-3 kon die mense van die fynboswêreld meer op hul gemak wees.
Swak verdedeging laat Gurah toe om met ‘n breekslag ook onder die pale te gaan kuier. Nie lank hierna nie flous die wip van die bal twee Rhino-spelers en kon Justin Cleophas in die hoek gaan druk. Nog ‘n sterk skrum laat Sheldon Anthony van Hopefield toe om ook langs die pale te gaan druk.
Met die telling 33-6 in die guns van Hopefield was die spreekwoordelike skrif oënskynlik reeds teen die muur vir die span van Piketberg en het menige toeskouers van dié skuins dorp met die regop mense gewens dat die eindfluitjie net moes blaas.

Dit het kompleet gelyk asof die spelers van Hopefield rampokkers was wat ‘n skrikbewind gevoer het. Verbroude duikslae deur die Rhino-span het nie gehelp om dié vloedgolf te keer nie.
Ná ‘n vinnige tikskoppie vanaf ‘n strafskop, nael Sashin Dirks om Rhino’s se eerste drie te gaan druk en bring sodoende ‘n gevoel van hoop onder sy spanmaats. Met rustyd kon ‘n oorblufte Rhino-span gaan afkoel met die telling op 33-16 in die guns van Hopefield.
Toe die tweede helfte begin, het beide spanne verwoed aangeval.
Beter kommunikasie en duidelike rolvertolking in die Rhino-kamp, het byna vir ‘n verrassing gesorg. Vir Piketberg het die sterk agsteman, Herman van Sittert, groot impak gemaak. Hy kon elke keer die voordeellyn oorsteek met aggressiewe dryfmaalbewegings. Die agterste driehoek van die besoekende span – Christophai Booise, Charlton Sias en Lyle Booyse – het die Hopefield-spelers behoorlik benoud gehad met hul vaart en aftrappe deur die spel telkemale op die drumpel van nog punte te bring.

Met sy tweede drie en reeds sy vierde in drie wedstryde, was Sashin Dirks Piketberg se enigste aanspraakmaker op Speler van die Wedstryd.
Met 15 minute oor het Christophai Booise die monde van die tuisspan vir ‘n tydjie gesnoer deur met flinke optrede twee drieë te druk. Hopefield het met twee geelkaarte en met die telling op 38-37 in hulle guns, groot sweetdruppels begin afvee.
Die laaste 15 minute het weer aan Hopefield behoort en kon hulle die doellyn keer op keer oorsteek om drie onbeantwoorde drieë te druk om die wedstryd op 57-37 te laat eindig.
Piketberg het voor die einde van die wedstryd klaarblyklik begin glo dat dit nie saak maak hoe jy val nie, maar wat wel belangrik was, hoe jy daarna opstaan.
Piketberg se troosprys lê daarin dat hul wedstrydplan vir die eerste keer hierdie seisoen in die tweede helfte tot sy reg gekom het en dat dit as ‘n wenresep vir toekomstige wedstryde aangewend kan word. Met dit in gedagte, het dit die Rhinos weer nuwe hoop gegee.
Piketberg ontvang Saterdag die besoekers van Langebaan.

Leave a Reply

error: Content is protected !!