!Khwa ttu naasbeste in Afrika
!Khwa ttu, een van die Swartland se beste toerismebestemmings, het pas die silwermedalje losgeslaan in die Wêreldtoerisme-ekspo (WTM) se toekennings vir verantwoordelike toerisme op die Afrika-vasteland.
WTM Africa se Verantwoordelike Toerisme-toekennings is ‘n beloning vir diegene wat met hul voortdurende positiewe invloed op die bedryf toegewyd bou aan volhoubaarheidstandaarde.
Met dié toekennings wil WTM Africa goeie praktyke identifiseer, erken en bevorder.

!Khwa ttu, die San-erfenissentrum langs die Weskuspad, is ‘n voorbeeld van so ‘n toerisme-bestemming “aan die voorpunt van innoverende inisiatiewe wat werklik ‘n verskil maak”.
Die organiseerders sê :”Ons wenners is krities beoordeel op grond van bewyse en ons hoop dit sal die bedryf verder aanmoedig om hul voorbeelde te volg.
“Die wildlewe, natuur en omgewing is belangrike dryfvere vir reis.
“Die reis- en toerismesektor is afhanklik van die natuur se skoonheid om sy goedere en dienste te verskaf, tog kan toerisme negatiewe impakte hê op die plekke wat ons besoek.
“Die toerismesektor het ‘n verantwoordelikheid om by te dra tot die ommekeer van verlies aan biodiversiteit en om die natuur vir toekomstige geslagte te beskerm deur ‘n regeneratiewe benadering tot toerisme te bevorder.

“Ons is op soek na besighede wat as die bewakers van biodiversiteit optree en ‘n herlewende benadering tot hul bedryf volg.”
Luidens die motivering vir die silwermedalje, word daar by !Khwa ttu deurlopend gewerk om veerkragtigheid te verhoog.
“!Khwa ttu is op die plaas Grootwater gestig. Sedertdien is die plaas stelselmatig herstel sodat dit gebruik kon word om die tradisionele San-kultuur te deel, indringerspesies te verwyder en die Eland, ‘n belangrike spesie in die San-kultuur, en ‘n paar ander spesies te huisves.

“Die natuur is toegelaat om sy gang te gaan en self te herstel. Meer onlangs het hulle ‘n Kos van ons voorvaders-inisiatief ontwikkel. Argeoloë het bevind dat San-voorouers vir duisende jare plante, diere en seekos langs die Weskus geëet het voordat hulle sowat 370 jaar gelede verplaas is. Die volhoubare gebruik van biodiversiteit in !Khwa ttu se restaurant ondersteun die herstel van klimaatveerkragtige biodiversiteit, wat fragmentasie en agteruitgang aanspreek, ’n bewaringsekonomie help ontwikkel en lewensbestaan só ondersteun om veerkragtigheid te verhoog.”
https://www.khwattu.org/
