FEATUREDSports

Piketberg ‘verrys uit die as’

Piketberg se tuiswedstryd in Boland Rugby se Grootuitdaagliga (Weskus) Saterdag teen Langebaan het aanvanklik stadig begin met beide spanne wat klaarblyklik eers hul oppononente wou leer ken.
Dit was Langebaan wat eerste punte kon aanteken met stelskopper en heelagter, Brendon Olivier, wat suksesvol was met ‘n strafdoel om sy span met 3-0 te laat voorloop.

Olivier het sy span se voorsprong laat rek toe hy ná goeie samespel met die bal wat deur verskillende hande geneem is, die doellyn oorgesteek het. Die doelskop was nie suksesvol nie en Langebaan was met 8-0 voor.
Die tuisspan het egter ander planne gehad met nuwe energie, moontlik verskaf die Vrydagaand voor hul wedstryd deur een van die plaaslike predikante Michael Smith.
Die Rhinos het met elke vryskop of strafskop met tikskoppies die spel vinnig probeer maak.
Sashin Dirks, die Rhinos se voorste driedrukker, het een so ‘n vinnige tikskoppie geneem en 90 meter ver gehardloop om die bal onder die pale te plaas. Dit lyk of daar geen einde aan dié 18-jarige skrumskakel se briljante spel is nie en hy kan selfs binnekort straks deur hoër spanne raakgesien en opgeraap word.
Ná ‘n goeie breekslag deur die besoekende losskakel, Howard Adams, en twee verbroude duikslae deur die tuisspan kon Ivor van Bogen vir Langebaan gaan druk om die rustydtelling op 13-5 te staan te bring.

Die tuisspan het die telbord eerste aan die rol gesit in die tweede helfte.
Dirks flous sy opponente en nael veld-af waarna hy die bal aan Christophai Booise besorg wie dit sekondes later weer aan Dirks aangee om aan hom sy tweede drie te besorg. Met die telling op 13-12 in die guns van Langebaan, kon die Rhino-spelers die vorige aand se motiveringspraatjie in herrinering roep.
Die inskoppe is hierna deur Dirks beheer en hy dwing met een van sy inskoppe vir Langebaan om die bal naby hul eie doelgebied oor die kantlyn te jaag.
Die telling het egter vir ‘n geruime tyd onveranderd gebly. Langebaan het wel keer op keer aangeval en is later beloon toe hulle weer gaan druk het nadat Piketberg die bal nie onder beheer kon kry nie. Dit het die telling op 18-12 in die besoekers se guns gebring.

Piketberg het egter nie gaan lê nie en laat dink aan die feniks wat elke 500 jaar ditself uitbrand om net weer uit die as te verrys.
Mure Pickard, Piketberg se aflosvleuel, voer minute later die bal in die lug op sodat Christophai Booise in die doelgebied daarop kon val. Met die suksesvolle doelskop kon Piketberg daarin slaag om die wedstryd met 19-18 te wen.
Die waarde van die moitveringspraatjie en die woorde van die afrigters kan in dié telling gesien word.
Piketberg lê nou sewende op die puntelleer ná slegs 1 oorwinning.
Die komende naweek speel die Rhinos weg teen St Helenabaai.

Leave a Reply

error: Content is protected !!