Vaal Sand – soos die wiele van die windpomp draai
Vaal Sand, Pietman Geldenhuys se heel nuutste album, is van vandag op die meeste musiekplatforms beskikbaar.
Hartsmusiek wat sy liefde vir die ooptes van die Karoo, die Tankwa, weerspieël.

Pietman is ‘n boorling van die Warm Bokkeveld (op Prince Alfred Hamlet – by die stasie – grootgeword) en woon reeds jare in die Swartland.
Hy het bekend geword as komediant en Peter Mitchell (die Skot) met onder meer sy baie gewilde weergawe van Flower of Scotland.
Ná ‘n klompie jare in Engeland as onder andere trekkerdrywer, kelner en straatmusikant het hy later in ‘n Engelse Pub gesing. Sy eerste twee albums was in Engels – Hamlet by Night en You & I.

Met aanhangers wat bly vra het vir ‘n Afrikaanse album, het sy eerste een in dié taal – Van Die Os Op Die Jas – in 2018 die lig gesien.
Hy het ook al ‘n storievertelalbum, Die ding van ‘n storie, uitgebring.
Pietman is reeds van die eerste seisoen af mede-aanbieder van die Afrikaanse storievertelprogramreeks Oppie Stoep en is ook die laaste jare ‘n aanbieder van Landbouweekliks.
Hy wyk graag uit na die Tankwa.
Daar, so het hy ons ‘n klompie jare gelede vertel, “jag” hy “sandkrokodille” – sy naam vir skerpioene. Hy “jag” hulle met ‘n ultravioletlig. “Ek kan ure vir hulle sit en kyk. Die lig laat hulle geel vertoon.”
Vaal Sand het ses snitte. Dit sluit onder meer ‘n duet (Sonder Meer) saam met Gian Groen in.
Vaal Sand; Mesmeraai; Sing weer saam met my; Uitgebars in Gesang en Somernagte.

Met dié album vier Pietman sy 20 jaar in die bedryf.
Die inspirasie vir Vaal Sand kom uit die COVID-19-grendeltyd toe hy baie tyd in die Tankwa-Karoo deurgebring het.
“Dit is ‘n versameling werke met 6 liedjies wat oor die afgelope 4 jaar geskryf en ontwikkel is sommer so oor die lewe, die liefde en die mooi van die Tankwa-Karoo.
“…daar waar die vaal sand onder die oppervlak kleurvol en vol lewe is.”

Hy wil ‘n eenvoudige boodskap oordra: “Daar is ongekende skoonheid in die alledaagse eenvoud. Dit verg nét kyk om dit raak te sien.”
Pietman sing oor grondpaaie, die sterre en die melkweg. Sang, die windpomp en Mesmeraai(s). Someraande en die winter.
Dis hartsmusiek wat in jou kop kom vertoef as jy eers daarna geluister het.
…en die mense sê net sterk staan
die mense se wees vooraan
waar die mense voor die kerk staan
en uitbars in gesang…
of
…in die langspeelplaat se groewe los jy vir my jou stem
my losgewoelde skroewe word deur jou sang getem…
