FEATUREDNews

Ou struktuur word ná 70 jaar uitkykpunt

Die Yzerfontein-komitee van Swartland Toerisme het besluit om ná 70 jaar die oorblyfsels van die ou betonwatertenks bokant die hawe in ‘n uitkykpunt vir inwoners en besoekers te omskep.
Dit bied ‘n panoramiese uitsig oor die hawe, see en ‘n gedeelte van die dorp.

In haar boek Yzerfontein Weskuswonder het prof. Matilda Burden in 1996 geskryf oor die visfabriek wat in die vroeë vyftigerjare daar gebou is. Die hawe is destyds aangepas om die bedrywighede van die nuwe fabriek van Atlantic Ocean Industries te huisves.
Dit het onder meer die wegblaas van ‘n gedeelte van die koppie met dinamiet ingesluit, skryf Burden.
Al was daar talle planne met die fabriek, was dit egter nie vir baie lank in gebruik voordat dit gesluit is nie.

‘n Foto van die fabriek in die hawe. Volgens aanduidings is dit deur Chris de Jongh geneem.

Die watertenks is destyds vir die fabriek opgerig en die betonstruktuur het agtergebly toe die fabriek gesloop is.
In die laaste klompie jare het dit onwelkome besoekers gelok en gevolglike geraas en rommel asook ‘n brandgevaar geskep.
Nou het die toerismekomitee die inisiatief geneem om dit in ‘n bate en trekpleister te omskep.

Naas die geleentheid vir veilige meditasie en om die pragtige vistas in vrede te geniet, is daar ook ‘n nuwe herinneringsmuur en aparte mure vir borge, inwoners en besoekers om hul liefde vir Yzerfontein uit te druk in die vorm van plaatjies waarop hul name aangebring kan word.
Op dié manier kan toerisme ook fondse insamel vir nog projekte.

Die projek het die verwydering van rommel en die graffiti op die mure ingesluit en die hout op die tenkvoetstukke is vervang en aangevul vir sitplek.
Daar is ook ‘n afdak oor die lengte van die struktuur aangebring met dowwe LED-ligte wat so gestel is om nie nabygeleë woonhuise te verontrief nie.

Ook is daar sekuriteitsmaatreëls met gemoniteerde kameras en nagpatrollies ingestel en die toegangspaadjies na die nuwe uitkykpunt is opgegradeer.
Navrae oor die muur kan by die toerismekantoor in die Ou Vishuis gedoen word. Of skakel die kantoor by 022 451 2985 of per e-pos by yzerfontein@swartlandtourism.co.za.

Leave a Reply

error: Content is protected !!