LatestOns Mense

Ek is soos ‘n kettie oorgehaal – Hunsinger

Die Swartlander dr. Chris Hunsinger dien in die 7de nasionale parlement weer op die portefeuljekomitee vir vervoer nadat hy in die laaste termyn die DA se skaduminister van vervoer was.
“Ek is soos ‘n kettie oorgehaal vir die geleenthede wat voorlê – in enige hoedanigheid waar ‘n mens ‘n bydrae kan lewer om die goed reg te ruk. Ek is baie positief en gemotiveerd.”

Hy sê hy sal “graag in my derde termyn wat voorlê spesifiek die padongelukkefonds se herstel wil vestig. Die oplossing vir die padongelukkefonds lê aan die wysiging van die huidige wetgewing. Ek het reeds veertien oplossings geformuleer op huidige wetgewing waarmee die bloeding daar gestop kan word.”
Dan is daar ‘n “paar goed wat absoluut moet gebeur – wat vir my absoluut dringend en belangrik is.
“Uiteraard is dit belangrik dat ons trokke van die paaie af moet kry, veral dié wat mineraal vervoer. Dit maak vir my groot sin dat trokke wat bederfbare goedere vervoer, op die pad moet bly. Trokke en die hele industrie het diep in my hart gekruip. In grendeltyd was dit die trokke wat die ekonomie aan die gang gehou het. Toe niks kon beweeg nie, was dit die truckers wat vir ons kos afgelewer en versprei het.
“Hulle speel ‘n belangrike rol in die ekonomie, maar die magdom vragmotors wat ons op die paaie beleef, is regtig buitensporig. Ons breek ons paaie op. Minerale behoort nie op ‘n ander plek vervoer te word as spoor nie.

“Maar om dit reg te kry, moet een belangrike ding gebeur. Die twee entiteite Prasa, wat mense vervoer, en Transnet, wat goedere vervoer, moet weer een word. Die hele spoornetwerk in SA is tans verdeel tussen dié twee entiteite.
Dit lei tot ‘n jaarlikse wedersydse fakturering van meer as ‘n biljoen rand.”
‘n Bedragwaarmee Hunsinger sê, daar jaarliks 280 nuwe treinwaens gekoop kan word.
Die toestand van paaie, sê hy, gaan terug na 2009 toe die begrotingstoedeling van paaie 75% vir provinsies en 25% vir Sanral (nasionaal) was. Die nege provinsies is saam verantwoordelik vir paaie met ‘n totale afstand van 273 000 km, terwyl dié van Sanral 21 000 km is.
“Met die laaste begroting was die toedeling presies die teenoorgestelde. Die nege provinsies saam kry 25% van die begroting en Sanral 75%.
“Dit moet reggestel word. ‘n Totale hersiening van begroting.

“Dit sal ongelukkig met ‘n pynlike proses gepaard moet gaan dat ons minder paaie in stand moet hou. Ek dink ons padnetwerk is te groot. Daar is te veel paaie.”
Hy reken “die eienaarskap en begrotings van paaie tussen munipaliteite, provinsies en nasionale regering moet ook hersien word. Daar moet ‘n totale klassifikasie en herprioritisering gedoen word en dit beteken nie dat grondpaaie die minste belangrik is nie.
“In baie gevalle het die ekonomiese dinamika totaal verander en moet grondpaaie dalk geteer word.”
Slegte paaie, voeg hy by, lei op plekke daartoe dat in sekere gebeide daar baie meer ekonomiese potensiaal is in bv. die landbousektor, “maar die ouens kan net met sekere kommoditeite boer, want die ding breek vlenters omdat hulle op ‘n sleg pad ry.”

Hy sê die bevoegdheid van munisipaliteite moet ook herbeoordeel word om paaie te besit en in stand te hou en of dit beter is om dit na provinsie te skuif.
Oor lugvaart sê Hunsinger daar is dilemmas in die toekenning van lisensies en lughawens. Dit is ‘n munisipale funksie. Dit staan tans so in die grondwet. “So daar is baie ekonomiese geleenthede op streektoerismegebied byvoorbeeld vir kleiner lughawens en vir streektoerisme en ekonomiese ontwikkeling wat jy kan koppel aan klein lughawens. Maar nou is dit ongelukkig onder die beheer van ‘n munisipaliteit wat ‘n lughawe glad nie prioritiseer op sy begroting nie. Dis iets wat hersien moet word.”
Daar is ook uitdagings by hawens. “Vir toerisme en bemarkingswaarde wil jy bv. ‘n blouvlagstatus vir jou strande hê, maar inwoners soek ook ‘n plek om hul bote te loods. Dan bou jy dit en dan verloor jy jou blouvlagstatus, want jy het met beton aan die sand geraak, soos ons by Yzerfontein gesien het. Ons het baie keer die regte idee, maar die toepassing daarvan is ‘n uitdaging.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!