Nuwe hospitaal bykans gereed vir eerste pasiënte
Die tafel is gedek vir die opening eersdaags van die Swartland se eerste private hospitaal.
Met 84 beddens sal die Crestcare Malmesbury Hospitaal, wat teen ‘n koste van R238 miljoen opgerig is, aanvanklik voorsien in ‘n gedeelte van die behoefte soos deur deeglike studies aangetoon.

Die koste van die hospitaal met ‘n oppervlak van 88m² per bed, beloop R31 000 per m² of bykans R2,8 miljoen per bed.
Omdat die studies aangedui het dat die behoefte teen 2025 op ongeveer 170 beddens sal staan, word daar reeds voor die opening gekyk na ‘n volgende fase vir die hospitaal.
Só ‘n fase kan moontlik ook ‘n onkologie- en nier/dialise-eenheid insluit.
Met die uitsondering van enkele standaard administratiewe prosedures, ‘n verpligte inspeksie en goedkeuring deur die departement van gesondheid vandeesweek en ‘n paar laaste take, is die hospitaal gereed om van volgende maand af die eerste pasiënte te ontvang.

Bouwerk het in November 2022 begin en die sleutels is in April vanjaar aan Crestcare oorhandig om toe te rus en gereed te kry om te bedryf.
Die hospitaal-ontwerp word gekenmerk deur ‘n twee-ganguitleg. Die een gang is ‘n publieke gaan aan die voorkant (oostekant) met ‘n meer kliniese gang vir pasiëntbeweging aan die agterkant.
Die twee-gangontwerp sou vir ‘n volgende fase ook maklik net noordwaarts verleng kan word met minimum ontwrigting in die aktiwiteite en bedryf van die bestaande hospitaal.
Die Crestcare Malmesbury Hospitaal beskik oor die heel modernste mediese tegnologie in onder meer die radiografie-afdeling en teaters en ook in die sale waar pasiënte kan TV kyk en kommunikeer op gerieflike Ipad-toestelle wat op wegstootarms by elke bed geïnstalleer is.

dié courant het vroeër berig dat daar na raming op kapasiteit jaarliks 7 000 pasiënte in die hospitaal se eerste fase toegelaat sal word.
Kit Wostenholm, uitvoerende direkteur van die Crestcare-groep wat ook die bedryf van die hospitaal behartig, het verlede week by die bekendstellingsgeleentheid vertel van twee lisensies vir 50 beddens elk wat aanvanklik (nog voor die Covid 19-pandemie) deur die regering aan twee entiteite toegeken is en die proses om dit saam te voeg en ook intensiewe studies oor spesifieke behoefte en lewensvatbaarheid.

Wanneer die nuwe hospitaal open, sal dit 94 permanente personeel hê wat sal toeneem tot ‘n geraamde 160 wanneer die huidige fase op kapasiteit is.
Een van die uitsonderlike aspekte van die hospitaal is dat een van die vier teaters as laminêre lugvloeiteater toegerus is.
‘n Laminêre lugvloei-ventilasiestelsel verseker ‘n konstante vloei van ultraskoon lug wat deur ‘n vertrek sirkuleer. Dit filtreer en hersirkuleer die lug voortdurend om te verhoed dat bakterieë in die lug oop wonde besmet en verminder ook moontlike bakterieë op blootgestelde chirurgiese instrumente asook op die medici en die pasiënt se vel.

By die bekendstelling verlede week waar die burgemeester van die Swartland, raadsheer Harold Cleophas, die lint geknip het, het hy gesê dit “is nie net die opening van ‘n gebou nie, maar ‘n plek wat hoop, genesing en ‘n belofte van ‘n gesonder toekoms vir ons gemeenskappe beliggaam”.

“Die aanvaarding en benutting van kunsmatige intelligensie (KI) in gesondheidsorg in Suid-Afrika is nog in sy vroeë stadium. Crestcare Malmesbury Hospitaal is van die min wat ‘n operasiesaal sal hê wat volledig toegerus is met kunsmatige intelligensie-tegnologie wat hulle wêreldwyd mededingend maak. Hierdie belegging sal nie net die aandeelhouers bevoordeel nie, maar ook die gesondheidsorg en welstand van die Swartlandgemeenskappe wat toegang tot die dienste sal verkry.”

Ngange Nongogo van die private beleggingsgroep Summit Africa, meerderheidsaandeelhouer in die Crestcare-groep, het gesê pasiënte hoef nou nie meer 40km verder te reis na die naaste private hospitaal nie.

Die Crestcare-groep is onder die hospitaalgroepe in Suid-Afrika nou die een met die meeste blootstelling in die onderbediende landelike en buite-stedelike gebiede, het hy bygevoeg.
Die hospitaal se 84 beddens word opgemaak uit ‘n intensiewe eenheid, mediese saal, sjirurgiese saal, kraamsaal en pediatriese saal met ‘n neonatale intensiewe eenheid. Dit sluit ook isolasiebeddens in die volwasse en neonatale intensiewe eenhede in.
Daar is verder ook ‘n noodeenheid met 4 behandelingstasies en 2 resussitasiestasies, ‘n goedtoegeruste radiologie-afdeling, laboratorium en ‘n hospitaalapteek.
Nongogo het gesê in die bou van die hospitaal is 7 500 ton beton (500 vragmotorvragte) en 215 ton staal-bewapening gebruik.
Die 380 000 man-ure se arbeid wat gebruik is, sou een persoon vir 47 500 8-uur werksdae of 171 jaar besig hou.
Daar is ook 148km elektriese kabel, 11,5km waterpyp en 1 000 000 bakstene gelê.

Hy het gesê elke ekstra hospitaalbed skep gemiddeld tussen 1 en 1,5 nuwe permanente werskgeleenthede.
Sedert 2020 het Crestcare en Summit Africa 13 gesondheidsfasiliteite geopen met nog een wat later vanjaar voltooi sal wees. Hulle voetspoor sal dan in ses van die nege provinsies lê met ‘n totaal van 774 beddens. Dit plaas Crestcare in die Top-6 van hospitaalgroepe in die land, het hy bygevoeg.
Wostenholm het gesê dit is ‘n “baie emosionele dag vir my en die span. Dit was ‘n droom wat nou waar geword het.”
Studies het getoon dat daar in 2022 ongeveer 427 843 mense in die nuwe hospitaal se bedieningsgebied gewoon het en dat die getal na raming in 2035 op 584 164 sal staan.
Hier is ‘n fotoblik op die hospitaal met die bekendstelling verlede week.