!Honkia. Jy voel altyd welkom by !Khwa ttu
Johan Viljoen
Wanneer jy hoog in die lug uit ‘n vliegtuig spring, begin suis die wind teen by die 200km per uur by jou ore verby.
Toe daardie valskerm ontplooi en ons val eensklaps na 25km per uur briek, verander die verbysterende val in die mees salige stilte wat die uwe ooit ervaar het.
Jou spoed word gebreek en dit is asof ‘n nuwe wêreld van sien jou onwillekeurig begroet en oor jou spoel.
Elke keer as ek van die dolle gejaag op die Weskuspad indraai by !Khwa ttu, dan voel dit soos ‘n ander wêreld. Stadiger en soveel saliger. Dis asof jy met ander oë begin sien.
So was dit weer met die onlangse besoek.

Met die grondpad op na die besoekersentrum, restaurant, uitstallings, museum en akkommodasie kan jy verwag om springbokke of volstruise, elande of zebras of ander wild langs die pad aan te tref.
!Khwa ttu is een van die toerismejuwele (ná 25 jaar amper steeds geheime) van die Swartland, Weskus en die hele Wes-Kaap.
Hier kan jy afskakel, skoon lug diep inasem en ook op reis gaan deur tyd.

Jy kan die verskillende erfenisuitstallings en museum op jou eie of met begeleide toere verken. Daar is interaktiewe uitstallings oor die mens se komvandaan, die San en die geskiedenis en ‘n moderne Way of the San-museum waar jy ook kan kyk na die lewe van die Boesmans van die Kalahari.
Jy kan saam met gidse op wildritte gaan of ‘n Weskus-sonondergang bo uit die boma geniet.

Na die suide lê Hoerikwaggo (Tafelberg). Hoerikwaggo is die San-naam vir Tafelberg – berg in die see.
Jy kan een van die bergfiets- of staproetes aanpak en die natuur en voëllewe ervaar; met ‘n glasie uit die streek se verskeidenheid produkte rondom ‘n heerlike kaggelvuur in die toeristesentrum kuier of aan een van die streekgeïnspireerde disse in die restaurant smul.
En jy kan oorbly. Dit is ‘n perfekte punt van waar jy die streek kan verken. Die verblyfaanbod by !Khwa ttu is onlangs uitgebrei met die toevoeging van ses splinternuwe luukse Fynbos Cabins.

Die glasmure plaas jou as’t ware tussen die fynbos met onbelemmerde uitsig op ‘n pragtige sonsopkoms, ‘n wonderlike kaggel vir die winter en ‘n warm buitebad om die sterre te tel.
Gebou van hout en klip met ‘n toegeruste kombuis, groot slaap- en kuierkamer met etenstafel, ‘n stoepie met ‘n buitebraai asook ‘n groot bedekte buitestort.
Fyn beplan met volop detail in die dekor en handgemaakte kombuisware doen dit die algemene indruk wat !Khwa ttu skep van verantwoordelike gasvryheid, egtheid en nader aan moeder aarde, goed gestand. Eenvoud en luukse word gepaar vir ‘n onopgesmukte ervaring met die natuur.

!Khwa ttu het onlangs weer by die Wêreldtoerisme-ekspo (WTM) die silwermedalje losgeslaan in die toekennings vir verantwoordelike toerisme op die Afrika-vasteland.
Ons kuier om die braaivleisvuur en ‘n bottel Swartlandwyn terwyl die son sak en asem die wonderlike Weskusaand en jare se vriendskap met Clifford en Maryke met groot, stadige slukke in.
Met slapenstyd brand die kaggel met droë akasiahout (gemaak van dié indringerbome) al warm terwyl die donker daar buite deur die vensters waghou.
Toe die dag oor die Darling-heuwels breek is dit weer kaggel maak en tyd vir ‘n oggendkoffie.
Die blindings lankal gelig om die fynbosveld nader te trek en volronde sonsopkomskleure wat jou die dag innooi.

Toe gaan eet ons ontbyt en gaan maak ook ‘n draai op Yzerfontein by Blake’s Family Wines en die nuwe uitkykpunt wat Swartland Toerisme pas bo die hawe ingerig het.
Veel later kon ons ná ‘n wildrit ‘n fantastiese sononder oor Yzerfontein bo uit die boma gade slaan en ‘n glasie van Darling Cellars se bekroonde Cap Classique en ‘n gepakte piekniekbord geniet.
Die aand word afgesluit met ‘n aandete-mandjie by die voordeur afgelewer met verskillende opsies soos hoenderpastei, beeslasagne, vegan-vriendelike boontjie- en sampioendis of ‘n braai-opsie.

Natuurlik ook bydisse en heerlike nagereg. Ons kuier weer gesellig saam terwyl dit liggies buite begin reën.
Dié Weskusplaas is in 1999 deur die Switserse antropoloog Irene Staehelin aangekoop vir die vestiging van die San kultuur- en erfenissentrum.
Die geboue is gerestoureer en !Khwa ttu het in 2006 vir die publiek geopen en is intussen tot dié juweel ontwikkel.
!Khwa ttu dien ook as opleidingsentrum waar jong mense uit die Kalahari opgelei word vir die gasvryheidsbedryf en as gidse.
Sommige van hulle bly dan ná hulle opleiding aan by !Khwa ttu.

Die gidse vertel ons van die San-tale en die kultuur. In die veld breek hul hul kennis van die wondere van die natuur vir besoekers oop.
In die restaurant se yskaste moet jy nie bekende internasionale handelsname verwag nie.
Die voorrade is sorgvuldig gekies om meer produkte uit die streek in te sluit.
Ook op die spyskaart sal jy, naas die San-geïnspireerde invloed en inheemse plante van die plaas self, ook Weskusname soos Kokerboom kaas (se joghurt vir ontbyt) en Paternoster Brew en Darling Brew raaklees. Die wynlys sluit Darling, Groote Post, Cloof, Blake’s en Swartland in. Dan is daar ook Voorkamer-brandewyn en Darlington-jenewer.

Kyk ook uit vir potbrood, heerboon-hummus, kei-appel, wildswors, granaatmolasse, askoek, die !Khwa ttu-wildsburger, kaiings, Sandveld-heuning, veldkool (in seisoen).
“Seisoenaal. Plaaslik. Loop liggies oor die land.”– Só sê die San-kultuur.
!Khwa ttu: 022 492 2998 – info@khwattu.org – www. khwattu.org

*By !Khwa ttu heet hulle jou welkom met: !Honkia. Ook die briefie op jou bed begin met: !Honkia Johan
Dit is in die N|uu-taal met haar 114 unieke klanke teenoor ‘n taal soos Engels wat omtrent 50 klanke het. Onder die 114 unieke klanke in N|uu is daar 45 kliek’s. Daar is 30 konsonante en 39 klinkers.

Die taal is in 1973 as uitgestorwe verklaar maar word nou beskou as die laaste oorlewende San-taal en Katrina Esau (90) is die laaste oorblywende vlotsprekende spreker van dié taal.
Sy is reeds vir jare betrokke in opleiding en aksies om die taal se voortbestaan te help verseker, ook in geskrewe vorm. Esau het ‘n eredoktorsgraad vir haar werk van die Universiteit van Kaapstad ontvang.