Davids laat diep onderwysspore, ook in die Swartland
‘n Seder het geval. Mag sy nalatenskap geëer word.
So skryf Tommy Davids se dogter Liezel.
Sy vertel Davids, ‘n boorling van Pniel, het sy ganse loopbaan van meer as 30 jaar gewy aan voorskoolse, primêre asook sekondêre onderwys.
Hy is onlangs op 82 in Somerset-Wes oorlede.
Davids het om as onderwyser bekwaam aan die destydse Hewat Onderwyskollege in Kaapstad
Sy eerste pos was by Albert Myburgh Sekondêr op Bredasdorp.
Daarna was hy by Lückhoff Sekondêr op Stellenbosch en Bergrivier Sekondêr op Wellington voor hy in die vroeë sewetigs by Ruststasie NGK Primêr in die Swartland as hoof aangestel is.
Hier was hy naas prinsipaal en klasonderwyser van grade vyf en ses, ook skoolbusbestuurder, noodhulpbeampte, rugbyafrigter en skeidsregter. “Ook katkisasiemeester en diaken.”
Die Davids-gesin het slegs 50 meter vanaf die skoolgebou gewoon, vertel Liezel.
Haar pa het in daardie tyd ook deeltyds studeer by UNISA en sy B.A.-graad in opvoedkunde vroeg in die jare tagtig behaal.
Hy is in 1982 in die pos van prinsipaal aan die O.J. Erasmus NGK Primêr op Kalbaskraal aangestel.
Hierna was hy aanvanklik adjunkhoof by Saxon Sea Sekondêr op Atlantis en is later as die skool se tweede prinsipaal aangestel.
Davids het vroeg in die negentigs die Inspekteur van Skole (deesdae Kringbestuurder) van die Weskus Onderwysdistrik geword. Hy het dié pos beklee tot sy aftrede in 1996.
Hy was ook ‘n bestuurslid van die Kaapse Professionele Onderwyser-Unie (KPO), onder leiding van dr. Franklin Sonn. Ander lede het ingesluit “Andrew de Laura, die destydse skoolhoof van Schoonspruit Sekondêr, Chris Goliath (oud-burgemeester van Malmesbury) en ander onderwyskollegas soos Gilbert Messina, Dolly Marais, Randall van der Heever, George Strauss, David Piedt en andere.”
Davids se passie vir kleuteronderrig het ook tot gevolg gehad dat hy by onder meer die stigting van drie kleuterskole – in Idasvallei; Stepping Stones in die Paarl en Vrolike Vinkies in Malmesbury – betrokke was.
Hy was ook `n lid van Die Stigting vir Gemeenskapswerk (FCW).
Volgens sy seun, Ervin Davids, was sy pa ‘n “man van integriteit, inbors, empatie vir die minderbevoorregtes en trots op sy herkoms.
“Hy het nie geskroom om sy personeel, kollegas en selfs senior prinsipale aan te spreek oor ongedane sake nie en sal nog lank daarvoor onthou word.”
Davids laat sy vrou van 57 jaar, Elize, drie kinders, sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders agter.