Klubrugby: Lillies-Wesbank-Derby wag
Klubrugby in die Boland het Saterdag weer met rukke en stote begin nadat reënweer daartoe gelei het dat talle velde in die streek die vorige twee weke onspeelbaar was.

Van die wedstryde wat Saterdag sou plaasvind, moes weer weens die nat velde uitgestel word.
In die wedstryde in die Boland Grootuitdaag se Swartland-afdeling wat wel plaasgevind het, het Wesbank hul wegwedstryd in nat toestande op Moorreesburg teen die tuisspan met 29-22 gewen.
Moorreesburg het teruggeveg in die tweede helfte nadat hul rustyd ver agter was, maar die besoekers het die knoop deurgehak.

Darling het na Wittewater gereis en ‘n oortuigende sege van 44-3 behaal, terwyl Porterville die besoekende span van Young Eagles met 39-21 geklop het.
Die top-5 posisies op die punteleer het nie verander nie, maar die punteleer lyk tans plek-plek soos ‘n haasbek met slegs 3 klubs wat al 15 wedstryde gespeel het.
Naas Riebeek United (13 wedstryde) het al die ander spanne 14 wedstryde agter die rug.

Abbotsdale, wat Saterdag ‘n loslootjie gehad het, is steeds bo-aan die punteleer (met 60 punte).
Al blaas Darling (58 punte) tans in hul nek, het Lillies nog ‘n ekstra wedstryd om te speel.
Wesbank het ook reeds 15 wedstryde gespeel en staan nou op 54 punte.
Hulle is oorgehaal vir die naweek se groot Derby teen Abbotsdale wat honger is ná drie weke se rus.
Die wedstryd is geskeduleer vir Alfastraat, as die veld speelbaar is.

Dit is een van die velde waar die afgelope naweek se wedstryd, dié tussen Never Despair en Riebeek United, nie kon plaasvind nie.
Ook Good Hopes se geskeduleerde tuiswedstryd die afgelope Saterdag teen Saron moes uitgestel word weens die toestand van hul tuisveld.

Die skedule vir Saterdag, 3 Augustus, lyk so (tuisspanne eerste):
Wesbank vs Abbotsdale
Darling vs Moorreesburg
Young Eagles vs Villagers Wittewater
Riebeek United vs Porterville
Saron vs Never Despair
Good Hopes het ‘n loslootjie.