LatestSports

Abbotsdale stewig in die saal

Met die helfte van hul ligaverpligting in die tweede ronde van Boland Rugby se Grootuitdaag (Swartland)-afdeling agter die rug, is Abbotsdale tans nog goed geplaas om die liga in te palm.
Lillies het ná die afgelope Saterdag se derby teen die sterk opponente van Wesbank met nog 5 ligapunte huiswaarts gekeer nadat hulle die kragmeting met 36-24 gewen het.

Die span het tans ná 15 wedstryde 65 punte op die punteleer met Darling wat reeds een wedstryd meer gespeel het in die tweede plek op 63.
Darling het tot dusver gemiddeld 36,3 punte per wedstryd aangeteken en gemiddeld 23 punte afgestaan. Hulle het 4 van hul 16 wedstryde verloor en in 1 gelykop gespeel, maar kon wel daarin slaag om 17 bonuspunte op te stapel. Dit is die meeste van alle klubs tot dusver met Wesbank tweede met hul 16 bonuspunte.

Abbotsdale het twee van hul 15 wedstryde verloor en 13 bonuspunte behaal.
Hulle het gemiddeld 34,1 punte (2 minder as Darling) aangeteken en gemiddeld 24,1 punte afgestaan.
Porterville het ná die afgelope Saterdag se sege oor Riebeek United (19-38) opgeskuif in die derde plek op die punteleer en het nou 56 ligapunte. Soos Abbotsdale, het hulle ook nog vyf wedstryde oor.

Wesbank lê tans ná 16 wedstryde vierde op 55 punte. (Hou wel in gedagte dat hulle vroeër met ligapunte gestraf is weens ‘n administratiewe oortreding.)
Die uitslae van die vyf wedstryde wat Saterdag beslis is:
Wesbank vs Abbotsdale: 24-36
Darling vs Moorreesburg: 48-26
Young Eagles vs Wittewater: 37-32
Riebeek United vs Porterville: 19-38 en
Saron vs Never Despair: 32-30.
Good Hopes het ‘n loslootjie gehad.

In die volgende reeks wedstryde die komende Saterdag pak die ligavoorlopers die besoekende Darling. Dit sal waarskynlik hul moeilikste een van die res van die seisoen wees met die besoekers wat sal wil wys hul melk is nog lank nie suur nie.
In die daaropvolgende weke speel Lillies weg teen Young Eagles, tuis teen Riebeek United, weg teen Villagers Wittewater en tuis teen Moorreesburg.
Never Despair ontvang Saterdag die Riebeek-Wes-spanne van Good Hopes (tans 5de op die punteleer) en Porterville kry besoek van hul bure van Saron.
Villagers Wittewater speel gasheer vir Riebeek United en Young Eagles, wat tans nog die agterhoede dek, reis na Moorreesburg (6de op die punteleer).
Wesbank het Saterdag ‘n ruskans.

Leave a Reply

error: Content is protected !!