Nuhoop Primêr vier 50 goue jare
Promosie
Van toeka tot nou…
“A trip down memory lane”
Die Nuhoop NGK Primêr het in Februarie 1974 in die plaasstoor van Willem en Helene Treurnicht van Nuhoop Boerdery begin. In Maart is die skoolgebou voltooi en het die skool, soos hy vandag nog staan, daar begin.
Die idee het ontstaan ná ‘n gesprek tussen ds. Ben Visser en Willem en Helene Treurnicht wat die behoefte vir plaaskinders in die Septemberskraalwyk raakgesien en die boere genader het. Met Helene se opvoedersagtergrond was dit ‘n wenkombinasie.

So is Nuhoop NGK Primêr gebore. Die leerders het vanaf die volgende plase gekom: Montana, Langvlei, Appelbosvlei, Borrelfontein, Vergenoeg, Alfa, Pylsrivier, Welgemeen, Silverdale, Nuhoop, Hou Moed, Septemberskraal, Nurust, Klerksdam, Vinkneskop, Donkermanskloof, Marydale, Geeldam en Alicedale.
In die stoor was boeke van ongedrukte koerantpapier gemaak en die twee opvoeders moes mooi praat om nie mekaar te steur gedurende kontaktyd nie. Die skool het ook nie krag gehad nie. Skooltoerusting is aangekoop van die skool in die dorp wat geskuif het. Die leerders was tussen die ouderdom van ses en dertien jaar oud en die skool het toe uit 52 leerders bestaan.

Nuhoop NGK Primêr spog reeds met vele sertifikate van die Reed-projek en is ook al aangewys as die beste landelike skool.
Vandag bestaan die skool uit 93 leerders en 5 opvoeders vanaf pre-graad R tot 7. Die leerders kom van nabygeleë plase asook die dorp.
Een van die skool se gewilde tradisies is die jaarlikse Lentedag wat in die vroeër jare ingestel is. Die leerders stap na die dam op die plaas stap en daar word heerlik piekniek gehou. – (Nuhoop opvoerders)
Uit die skoolhoof se pen
Hanri Gildenhuys
“My onderwysloopbaan het in 2014 hier begin. Ons was toe 36 leerders en 3 opvoeders – juffrou Santie by graad R, ekself by graad 1 tot 3 en mnr. Jordaan, wat skoolhoof was by die graad 4 tot 6-klas. In 2020 het ons die graad 7’s bygekry.
Ouers uit die dorp verkies om hulle kinders by Nuhoop Primêr in te skryf, te danke aan ons goeie dissipline, kwaliteitonderrig en liefde vir ons kinders. Dit is ‘n massiewe kompliment vir ons skool.
Vir die afgelope drie jaar word leerders een keer per jaar in die vakansie uitgeneem op ‘n uitstappie, sodat leerders nie kontaktyd verloor nie.
Hier gee die opvoeders steeds nog om vir elke liewe leerder, want al is ons deel van die WKOD se voedingskema, bring opvoeders gereeld ‘n ekstra bydrae om die kos lekker te maak. Dit is soms die enigste maaltyd vir van ons leerders.

Saam het ons ook al baie verbeteringe aangebring, soos om ‘n klaskamer, toilette en ons kantoor te teël en die kinders se toilette se dak vervang. Fondse is ingesamel sodat elke klaskamer ‘n lugversorger kan hê.
Ons het ook projektors en tablette ontvang om leerders bloot te stel aan hedendaagse tegnologie, waarsonder ‘n mens nie vandag kan bybly nie.
Christelike waardes word hoog op prys gestel by Nuhoop Primêr en ons ontvang soveel komplimente oor ons skool se netjiese skooldrag en voorkoms.
My hoop vir elke leerder van Nuhoop Primêr is om lief te bly vir die plaaslewe – maar om hulle voor te berei op die groter wêreld daarbuite en aan leerders die geleenthede te gee om wêreldwys te wees en met ‘n visie hier weg te gaan.”