Lillies blom nog voor
Al is Abbotsdale nog stewig in die saal en tans die span om te klop in die laaste pylvak van 2024 se Boland Rugby Grootuitdaag(Swartland)-kompetisie, kan verrassings nooit uitgesluit word nie.
As ligavoorlopers op 71 punte het Lillies, anders as die ander drie spanne in die eerste vier posisies, nog drie ligawedstryde oor.
Darling (tans 2de met 68 punte), Porterville (tans 3de met 67 punte) en Wesbank (tans 4de met 65 punte) het elkeen nog twee wedstryde.
Die liga is uiteraard nie gewen voor die eindfluitjie in die laaste wedstryde geblaas het nie.
Dit is eintlik teoreties nog selfs vir Good Hopes (tans 5de met 58 punte) moontlik om met drie bonuspuntoorwinnings die liga te wen, as Abootsdale en die ander top-spanne almal in hul oorblywende kragmetings ver vasval.
Maar dit is inderdaad heeltemal onwaarskynlik met drie oënskynlik maklike kragmetings wat op Abbotsdale wag.
Die kompetisie om die tweede plek op die punteleer is wel nog aansienlik wyer oop as dié vir die geruite vlag.
In die afgelope Saterdag se wedstryde het Abbotsdale die besoekers van Riebeek United met 31-25 geklop.
Porterville het met 30-19 oor Never Despair geseëvier terwyl Wesbank vir Young Eagles met 75-12 afgeransel het.
In die ander kragmetings van die naweek het Good Hopes hul wegwedstryd teen Villagers Wittewater met 17-15 gewen en Moorreesburg het ‘n tuisoorwinning van 29-7 oor Saron behaal.
Abbotsdale speel in hul oorblywende drie wedstryde weg teen Villagers Wittewater (31 Augustus), dan tuis teen Moorreesburg en weg teen Young Eagles.
eers
Darling kom Saterdag in ‘n wegwedstryd teen Never Despair te staan en aanstaande naweek tuis teen Porterville.
Porterville pak hierdie naweek vir Wesbank tuis en dan volgende Saterdag die Melkboere op Darling.
Wesbank se oorblywende twee wedstryde is komende naweek weg teen Porterville en dan volgende naweek tuis teen Villagers Wittewater.
Good Hopes se paadjie na die einde van die liga sluit ‘n tuiswedstryd teen Young Eagles (hierdie Saterdag), ‘n derbywedstryd volgende naweek teen Riebeek United (weg) en ‘n oorblywende tuiswedstryd teen Saron in.
Die ander ligawedstryd vir Saterdag 31 Augustus is dié tussen Saron (tuis) en Riebeek United.