CommunityOns Mense

Piet Smit word só onthou

Een van die Swartland se bekende predikers, atleet, natuurliefhebber en kranige fotograaf, Piet Smit, se stem het verlede week stil geraak.
Pastoor Piet Smit, ‘n boorling van die Hopefield-distrik (die plaas Coenradenberg) het ‘n paar jaar gelede afgetree en hom toe op kleingroepbediening toegespits.
Smit (69) was voorsitter van die Swartland Atletiekklub en ‘n aktiewe natuur- en voëlfotograaf.
Hy het ook dikwels bergklimgroepe gelei wat op Kasteelberg oornag het.
dié courant het ‘n paar mense wat hom oor die laaste klompie jare leer ken het, gevra om elkeen iets oor hom te vertel.

Christa Marais van die Swartland Atletiekklub skryf:
” Pastoor Piet, ons Swartland Atletiekklub voorsitter.
As daar nou een persoon was wat absoluut vol punte gekry het vir toepassing van die Vrug van die Gees – dan was dit Pastoor Piet.
Daarby kan ons nog baie voeg: gedissiplineerdheid, bemoedigend, inspirasie vir almal, deursettingsvermoë, nederigheid, uithouvermoë, hulpvaardigheid, samehorigheid en omgee.
Tydens wedlope en ons maandelikse saamdraf-oefensessies het Pastoor Piet ’n aura uitgestraal wat ons as mede-atlete saamgesnoer en soos een groot familie laat voel het.
Al was sy program so vol met sy verpligtinge as pastoor, het hy kans gesien om die atletiekklub se verantwoordelikheid op hom te neem.
Geen ekstra tree was vir Pastoor te veel gevra nie.
Hy het sy geloof uitgeleef in sy daaglikse pligte en ook tydens elke oefensessie, wedloop, vergadering, saamrygeleenthede en elke kuier. Oral en altyd.
Hy was ’n voorbleed vir ons almal.
Pastoor Piet se heengaan, laat oral ’n groot leemte ook in ons Swartland Atletiekklub.
Mag Pastoor se tekkies rustig voortklap in goue strate van die nuwe Jerusalem.
Rus sag Pastoor.”

John Dürr skryf:
“Ek het vir die eerste keer van Piet Smit, die atleet, kennis geneem in die jare wat ek soggens douvoordag Malmesbury aan die noordekant uitgery het om in die Kaap te gaan werk. Omdat ek 06:00 daar moes wees, het ek dus teen 05:00 in die hoofstraat ingedraai en daar het ek vir die eerste keer die lang man met die mooi hardloopstyl en kierie in sy hand (vir die honde) raakgesien.
Sedert ek in 2006 weer my besigheidstuiste in Malmesbury kom maak het, is ek mettertyd weer deur die hardloop- en stapgogga gebyt en het my paaie dus outomaties ook met dié van Pastoor Piet en die Swartland Atletiekklub gekruis.
Wat ‘n liewe, ware Christenmens was hy nie. Altyd nederig, rustig en sag met jou gepraat en altyd belanggestel in jou wel en weë en altyd ‘n bemoedigende woord gehad as hy agterkom iets is nie heeltemal pluis nie. Altyd groepe mense aangespreek as ‘geliefdes’.
Toe ons later vir Piet kies as voorsitter van die Swartland Atletiekklub, het sy ander mooi eienskappe ook na vore gekom, nl. organisering van sy klublede voor wedlope, veral om saamrygeleenthede te kry vir dié wat nie eie vervoer gehad het nie.
Voor en ná wedlope wou hy altyd sien dat ons as klublede bymekaar kom vir foto’s (hy was ‘n ywerige fotograaf) om herinneringe te bou. Hy was dus baie gesteld dat ons as lede altyd netjies en korrek geklee is en het baie moeite gedoen om die huidige klubkleure, wat baie prominent is by wedlope oor die hele Wes-Kaap, tot hul reg te laat kom. Hy was ook gesteld daarop dat sy lede nie net moet hardloop of stap nie, maar dat jy ‘n oefenprogram moet hê. Jy moes dus gereeld oefen, inskryf, korrek aantrek, deelneem en die wedloop voltooi.

Ná wedlope het hy ons altyd bymekaargetrek vir die prysuitdelingsfunksies en was altyd baie trots op elke klublid wat een of ander prys gekry het. Hy was ook altyd baie gewild (soos verneem) by Boland Atletiek omdat ons klub jaarliks goed verteenwoordig was by wedlope oor die hele Wes-Kaap, iets wat ons met groot verantwoordelikheid sal voortsit uit eerbied en respek vir dit wat hy vir ons beteken het. Saam met Susan (baie hartlike dank) was hulle ‘n gedugte span om die klub se administrasie op datum te hou en uit te bou.
Piet as plaaskind se liefde vir die natuur (voëls fotografeer by die plaasdamme in die Swartland) en buitelewe (Riebeekberg-uitstappies) was ‘n kenmerk van iemand wat sy Godgegewe opdrag om na die diere en die plante om te sien, uitgeleef het.
Saam met dit het hy ook nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om te sorg dat sy medemens se geestelike lewe op die regte pad is nie. Gereelde daaglikse geestelike boodskappe en naweke se kerkdienste op video was werklik gestesvervullend en het diep spore in elkeen wat dit gedeel het, se lewens gelaat.
Pieta het die Lewenswedloop suksesvol aangepak met die opdraandes en die afdraandes, ander saam met hom op daai reise geneem en die wenpaal bereik om langs die hemelse troon aan die voete van sy Hemelse Vader vir wie hy só lief was, te gaan sit.
Baie dankie vir die legacy wat jy nalaat Piet. Sterkte en seën aan Susan en die kinders. MOOILOOP!”

Ds. Jan Steyn van die NG Gemeente Swartland-Noord skryf:
“Ek onthou Piet as hierdie rustige en waarlik vroom mens wat was wie hy was, sonder aansien of vertoon. Ek sal sy skrywes in die plaaslike koerante onthou – gewoonlik iets rondom die deursettingsvermoë van die marathonatleet. As ek reg is, het Piet elke oggend hier tussen vier en vyf in die oggende gaan draf. Hy was ‘n ongelooflik gedissiplineerde mens wat nie omgegee het om lang ure te werk nie. Ek was jare saam met hom by die plaaslike broederkring. Piet se droë sin vir humor het uitgestaan. Hy het eendag droogweg gevra: ‘Weet julle waarvoor staan die AGS?’ En toe gegrap: ‘Al die Gesteelde Skape!’
Piet het net sy Bybel gelees en as ons hom gevra het watter boeke oor die bediening hy besig was om te lees, het Piet geantwoord: ‘Broers, as dit nie in die ou groot swart boek staan nie, wil ek liewer nie weet nie!’
Ek onthou een slag het ons een Sondagoggend ná kerk hierdie gesamentlike geleentheid as kerke gehad waar ons vir Piet gevra het om die verrigtinge halftwaalf die oggend te open met skriflesing en gebed. Piet se diens by die AGS het al halftien begin, maar hy was half gesteurd dat ons verwag het hy kan al halftwaalf by ‘n ander byeenkoms wees. Sy verontwaardigde antwoord was: ‘Broers, halftwaalf kom ek eers daar in ons gemeente in vir die landing!’
Piet was ‘n legende en vir ons almal ‘n voorbeeld – hierdie dienskneg van die Here wat nie homself nie, maar die Here en sy gemeente altyd eerste gestel het. Dis so anders as baie leiers vandag. Gaan rus ou grote. Jy het alles gegee.”

‘n Jarelange gemeentelid Tjerk Kits skryf:
“Piet Smit, legende van Malmesbury, se stem is stil.
Met groot hartseer moet ons afskeid neem van ‘n legende wat sy hele lewe lank intens betrokke was by die geestelike bediening van mense. Dit was vir hom nooit te vroeg om op te staan as dit oor tyd spandeer met God gegaan het nie. Soggens 3 uur het sy Youtube-boodskap uitgegaan, videoclips aan Whatsapp-vriende ook. Alles om die naam van Jesus te verheerlik. Hy het Jesus altyd eerste gestel in alles wat hy gedoen of aangepak het.
Hy het sy boeties en sussies in die gemeenskap altyd bemoedig en ondersteun. Kwaad het jy hom nooit gesien nie. Vroegoggend om 6 uur was hy altyd stiptelik vir gebed by die kerkgebou saam met biddende vriende. Niks kon hom weghou of laat afwyk het van sy afsprake met Jesus nie. Hy was nooit te moeg om ‘n woordjie oor Jesus met sy vriende te deel.
Piet Smit sal ook onthou word vir sy uitreik na organisasies soos CAD wat sou hulp verleen aan verslaafdes deur gebed. Sy woorde was altyd ‘Ons moet bly bid my vriende. Jesus is ons enigste hulp tot verlossing en redding’. Hy laat ‘n groot leemte as dit by gebed en geestelike diensbaarheid aan die gemeenskap kom. Sy wedloop het hy met reuse-sukses voltooi.
Dis wie Piet Smit was. ‘n Volgeling van Jesus en hy het gestreef daarna om meer te wees soos Jesus. Al is Piet se stem stil, sal sy Goddelike nalatenskap nooit vergeet word nie.
Rus in vrede Pastoor Piet Smit. Jou gelyke wat jou skoene kan vol staan, het nog nie in Malmesbury gearriveer nie.”

Smit se begrafnisdiens is Vrydagoggend om 11:00 vanuit die NG-Kerk Swartland-Noord.

Leave a Reply

error: Content is protected !!