Agri/BusinessFEATURED

Skaapstudiegroep wys wenners aan

Die Skaapstudiegroep van Agri Malmesbury het Vrydag sy 42ste Kudde-evalueringsdag by die Malmesbury skougronde gehou.
Al die wenners van die onderskeie skaaprasse, die slaglamkompetisie asook die Stockman-kompetisie is weer aangewys.

Die voorsitter van die studiegroep, Eben Schellink, het al die borge, waaronder die hoofborg Meadow Feeds, en rolspelers wat tot die dag se sukses bygedra het, bedank.
Hy het ‘n beroep op gaste gedoen om waar moontlik dié borge te ondersteun.

Die gooi van ‘n wolvag om reg uitgesprei op die sorteertafel te land, is ‘n besondere kuns. Hier gooi Reboloke Julius Makashane van Fourie Skeerdienste die vag dat dit eers ‘n wolk vorm voor dit uitsprei en hy dit dan betyds terugtrek voor dit op die tafel land.

Die wenner van die Merino-afdeling was Elandsberg Plase (Merinotelersgenootskap-wisseltrofee).
Die res van die uitslae:
2de: Janneman Louw
3de: Junior Herholdt
Beste Wol: Elandsberg Plase (BKB-wisseltrofee)
Beste GDT (gemiddelde daaglikse toename): Nicol Mostert
Beste Jongooi (Wol en Bou): Elandsberg Plase (Callie van der Merwe-wisseltrofee)

Merino-afdeling: Die wenner Abraham Cloete van Elandsberg Plase (naasregs) saam met Jan Olivier namens Junior Herholdt, Juan Louw, en Raché Stofberg-Kotze van Meadow Feeds (die hoofborg van die dag).

In die Dohne Merino-afdeling het Paul Truter die louere en die Dohne Telersgenootskap-wisseltrofee ingeoes.
Die res van die uitslae:
2de: Oubasie Lesch
3de: Jeandré Brink
Beste Wol: Oubasie Lesch (BKB-wisseltrofee)
Beste Bou: Paul Truter

Dohne Merino-afdeling: Wenner Paul Truter (naasregs) saam met Raché Stofberg-Kotze van Meadow Feeds, Jeandré Brink (3de) en Oubasie Lesch (2de).

Martin Bester het die afdeling vir SA Vleismerinos (SAV Telersgenootskap-wisseltrofee) gewen met Michiel Smuts in die tweede plek.
Beste Wol: Michiel Smuts
Beste Bou: Martin Bester

SA Vleismerino-afdeling: Die wenner, Martin Bester (middel), saam met Raché Stofberg-Kotze van Meadow Feeds en Michiel Smuts (2de).

Die Rumevite/Kaapstad Lewendehawe Agentskap-trofee vir die beste vordering oor alle rasse is vanjaar deur Junior Herholdt van Uitkyk Boerdery ontvang.

Jan Olivier het die trofee vir die beste vordering oor alle rasse namens Junior Herholdt van Uitkyk Boerdery ontvang, By hom is Eben Schellink (voorsitter van die skaapstudiegroep) en Raché Stofberg-Kotze van Meadow Feeds.

In die kompetisie vir die kampioenslaglammers het Vredesig Boerdery van Johnny Forbes uitstekend gevaar.
Vredesig het die eerste drie plekke vir enkellammers opgeraap en vir die kampioenkarkas die Vleissentraal-wisseltrofee ontvang.
Hulle het ook die Kaapstad Lewende Hawe-wisseltrofee vir die kampioengroep ontvang en ook die reserwekampioengroep ingeskryf.
In die groepafdeling het Schoongezicht Boerdery van Nelius van Santen die derde plek behaal.

Slaglamkompetisie: Dewald Linde en Henro Wessels van Vredesig Boerdery met onderskeidelik die Kaapstad Lewende Hawe-wisseltrofee vir kampioengroep en die Vleissentraaltrofee vir die kampioenkarkas saam met Raché Stofberg-Kotze van Meadow Feeds.
Vredesig Boerdery se kampioenkarkas is op die veiling vir R6300 aan Tommy Moolman (regs) verkoop. Links staan Henro Wessels van Vredesig Boerdery.

Gr. 10-skoliere van vier skole – Hoërskool Swartland, Hoërskool Porterville, Augsburg Landbougimnasium en Boland Landbouskool – het weer vanjaar aan die Stockman-kompetisie deelgeneem.

Hulle het lesings deur Jannie Fourie van die Nasionale Wolkwekersvereniging, die veearts dr. Francois de Villiers en Evan Gird van Samic bygewoon en daarna ‘n teoretiese eksamen afgelê.

Die leerders het ook ‘n praktiese skaaphanteringseksamen onder leiding van Joubert van der Merwe van Boland Landbouskool afgelê. Die algehele wenner van die 2024 Stockman-kompetisie was Heinrich Redelinghuys van Hoërskool Porterville.
Die ander deelnemers in die top-5 was:.
2de: Johan Vos van Hoërskool Porterville.
3de: Andrew Aggenbag van Augsburg Landbougimnasium.
4de: Corrie Jansen van Rensburg van Hoërskool Swartland.
5de: Cyall du Preez van Hoërskool Porterville.

Die wenner van die 2024 Stockman-kompetisie was Heinrich Redelinghuys (3de van regs) van Hoërskool Porterville. Hy het sy prys van John Dürr (3de van links) van Agri Malmesbury ontvang. By hulle is die ander vier deelnemers in die top-5. Cyall du Preez van Hoërskool Porterville, Corrie Jansen van Rensburg van Hoërskool Swartland, Andrew Aggenbag van Augsburg Landbougimnasium en Johan Vos van Hoërskool Porterville.

Die organiseerders ken ook sedert verlede jaar ‘n spesiale Agri-Expo-trofee toe aan die leerder wat op die dag die meeste passie en leergierigheid openbaar het. Dié toekenning is vanjaar deur die tuisskolier Abigail Benson ingepalm.

Abigail Benson (‘n tuisskolier) ontvang die Agri-Expo-trofee vir die leerder wat op die dag die meeste passie en leergierigheid openbaar het van John Dürr van Agri Malmesbury.

Daar was ook vanjaar weer ‘n hekkiedra-kompetisie. Twee spanne van Hoërskool Swartland – die Mooi Meisies (Tara du Toit en Kayler Stander) en Die Rooi Poenskoppe (De Wet van Aswegen en Dimitri Boutsikaris) – het die afdelings vir meisies en seuns gewen.
Die Souties-span (Matthew Stretton en Richard van Coller) het al hul opponente in die senior afdeling uitgestof.

Die wenspanne van die hekkiedra-kompetisie. Die Mooi Meisies-span (Tara du Toit en Kayler Stander) van Hoërskool Swartland; die Souties-span (Matthew Stretton en Richard van Coller) – senior wenners en die Rooi Poenskoppe (De Wet van Aswegen en Dimitri Boutsikaris) van Hoërskool Swartland.

Leave a Reply

error: Content is protected !!