Zanywa Swartland se top-agriwerker vir 2024
Sivenathi Zanywa, ‘n assistentbestuurder by die Chalala 2-varkplaas buite Malmesbury, is gister by die Prestige Agriwerkertoekennings as die Swartlandstreek se 2024 Agriwerker van die Jaar aangewys.
Zanywa het ook die eerste plek in die afdeling vir Junior Bestuur opgeraap.

Die kompetisie word jaarliks in 16 streke in die Wes-Kaap gehou deur die provinsiale departement van landbou saam met die hoofborg, Shoprite.
In die Swartland word dit deur Jolene Janse van Rensburg van die Santam Swartland Wyn- en Olyfroete gekoördineer.

Die wenners in elk van die kategorieë ding met die wenners uit die ander streke deel om die algehele wenners later vanjaar by ‘n galageleentheid aan te wys.
Die Swartland-wenners is gister by ‘n geleentheid op Goedgedacht vereer. Hulle het prysgeld en geskenkbewyse ontvang. Elkeen van die deelnemers het ook sertifikate en geskenkpakkies onvang.

Juan de Lora van die departement van landbou het gesê die kompetisie is ‘n manier om vir mense te wys landbou is baie belangrik. “Net so belangrik soos landbou, is die werkers wat seker maak ons sit kos op die tafel.” Hy het ook klem geplaas op landelike veiligheid.

“Al is landelike veiligheid nie ons besigheid nie, het ons besef dat as die boer en die werkers nie veilig is op die plaas nie, dan gaan ons nie kos op die tafel hê nie. Dan gaan die ekonomie van die Wes-Kaap ook ‘n knou kry.”
“Dit is vir ons belangrik dat alles op die plaas op ‘n ordelike manier gebeur en ook dat almal op die plaas erkenning kry vir wat hulle doen.”
“Die kompetisie is om vir die wêreld te wys ons landbouwerkers is goeie mense en hulle weet wat hulle doen. Omdat hulle dit elke dag doen.”

Die Swartland se 2024-wenner van die kategorie vir Algemene Werker was Heinrich Hoop van Slimsun.
Die naaswenner was Sarie Snyders van Goedgedacht met Franzette Paulse van Wynkeldershoek derde.

In die Drywer-afdeling het Jerieve Lambrecht van Eenboom met die louere weggestap met Johannes Schalkwyk van Wynkeldershoek tweede en Goerge Booysen van Kloovenburg in die derde plek.

Die wenner van die kategorie vir Besproeiingspesialis was Dawid du Toit van Wynkeldershoek.
Die naaswenner was Rowan Bartman van Kloovenburg met Abraham September van Org de Rac derde.

In die afdeling vir Tegniese Operateurs het Thabo Mabe van die Riebeek Valley Wine Co die prys was wenner ontvang. Brendon Engelbrecht van Swartland Wynkelder was tweede en Tyron Crotz van Kloovenburg derde.

Vanjaar se wenner in die afdeling vir Administratiewe Personeel is Kay-Louise Heynse van Kloovenburg. Charlene Rosenberg van Org de Rac het die tweede plek verower met Monique Mulder van David & Nadia in die derde plek.

Die eerste prys in die afdeling vir Voorvrou/Voorman is deur Kaylene Beukes van Swartland Wynkelder opgeraap. Mfakuthi Ngcephe van Wynkeldershoek was tweede en Siphokuhle Heleni van Chalala Farms in die derde plek.

Die afdeling vir Junior Bestuur is deur Sivenathi Zanywa van Chalala Farms gewen. Reinhard la Meyer van Goedgedacht het die tweede plek ingeneem met Barend van Jaarsveld van Eenboom derde.

Daar is ook jaarliks ‘n toekenning vir die Bes Presterende Plaas. Dié prys is vanjaar weer aan Wynkeldershoek toegeken.

