Swartlandskou vier die 90 groot
Dit is weer September en oudergewoonte tyd vir een van die enkele grootste geleenthede in die Swartland wanneer daar oor vier dae op Moorreesburg skou gehou word.
Die Swartlandskou vier 90 jaar en beloof om vanjaar van Woensdag tot Saterdag (4 tot 7 September) groter te wees as ooit.
Honderde miljoene rande se masjinerie en toerusting word jaarliks op dié skou uitgestal en honderde diere word in die klein- en grootvee-afdelings ten toon gestel.
Daar is vanjaar ook ‘n groot nuwe toevoeging tot die program met ‘n skaapskeer- en wolhanteringkampioenskap waar deelnemers kan kwalifiseer vir die 2025 nasionale kampioenskappe waar die Proteaspan vir die wêreldkampioenskappe gekies word.
Deelnemers sal in verskillende afdelings meeding en ‘n paar honderd skape skeer.
Oor die laaste klompie jare het die beesskou op die Swartlandskou ook gegroei tot een van die grootstes in die land waar die prag van vleisbeeste weer vanjaar – streekkampioenskappe vir Hereford, Santa Gertrudis, Charolais, Brahman, Simmentaler, Rooi Angus en Swart Angus – met mekaar sal meeding om die Goue Beker.
Daar is Saterdag ook ‘n beesparade met die top-diere.
In die hoofarena is die perdeskou al vir baie jare vir besoekers een van die grootste trekpleisters. Hier kan hulle dié mooi diere – SA Vlaam (nasionale kampioenskappe), Hackney (Wes-Kaap kampioenskappe), Saalperd (WP kampioenskappe) – in aksie sien met die wa-spanklasse jaarliks een van die hoogtepunte.
Die kleinvee-afdeling sluit vanjaar weer Merino- en SA Vleismerino-kampioenskappe in en daar is weer ‘n slaglamkompetisie. Die kampioenkarkas (Vredesig) van verlede jaar het ‘n allemintige 99,05 punte behaal.
Met die oog op die toekoms is die jeugskou, waar die jong vertoners hul dissipline en slag met diere moet wys, ook een van die hoogtepunte. Die deelnemers sal Woensdagmiddag in hul ouderdomsgroepe in die onderskeie afdelings – vleisbees, melkbees, vleisskaap, wolskaap, boerbok, melkbok, angorabok, pluimvee, konyne, perde, duiwe en ‘n jong afslaerskompetisie – meeding.
Ook die pluimvee-afdeling op die skou lok jaarliks top-inskrywings.
‘n Baie gewilde jaarlikse damesdag word weer Woensdag gehou met Marciel Hopkins as gasspreker en vermaak deur The Muses.
Vrydagoggend vind Graan SA se gewilde landbouseminaar plaas.
Daar is ook weer ‘n groot aantal motoruitstallings asook ‘n groot verskeidenheid leefstyl- en kosstalletjies.
Saam met dit alles is daar die allegaartjie van vermaak vir oud en jonk. Dit sluit in optredes deur (Donderdag) New Horizon, DJ LVL, (Vrydag) Louis van Lill, Viljoen Retief, Chris Else, Dodo Nyoka, Ryno Velvet, Jay du Plessis, DJ LVL, (Saterdag) Step by Step-dansskool, Juldi Magic, MG Pro Voices, Jack ‘n June, Wilma van Heerden, Lisie Basson, Samantha Leonard, Jan Rhaap, Eloff en DJ LVL.
Saterdag om 17:00 is daar natuurlik Springbokrugby op die groot skerm.
Die 2024 skoukoningin, Merisa van der Merwe, en haar twee prinsesse, Tanya Beukes (1ste prinses) en Maronel Groenewald (2de prinses) is Vrydagaand op die skoudans aangewys.
Vir meer inligting oor die skou en die aankoop van kaartjies om ‘n moontlike ry by die hek te vermy, besoek gerus Swartlandskou se webwerf.