Lillies blom vroeg in die seisoen
Wesbank-Spairs-derby wag
Die Swartlandstreek se Grootuitdaagkampioen, Abbotsdale, het die nuwe seisoen op volspoed afgeskop en beide hul eerste kragmetings gewen om vanuit die staanspoor die top-posisie op die punteleer in te neem. Lillies is die enigste span wat in albei die eerste twee rondes 5 ligapunte ingesamel het.

Hulle het Saterdag na Wittewater gereis. Die tuisspan het die vorige naweek verras met ‘n wegsege oor Darling, maar Abbotsdale het Saterdag die knoop deurgehak en met 29-21 geseëvier.
Darling het op Riebeek-Kasteel teen Riebeek United kragte gemeet en weer vasgeval.
Wesbank het in hul wegwedstryd teen Mamre ‘n groot genoeg voorsprong in die eerste helfte opgebou as buffer teen die tuisspan se terugvegpoging en die kragmeting met 20-18 gewen.

Moorreesburg het ook gereis en die nuweling in die liga, Voorberg, aangedurf. Die besoekers het in dié kragmeting naelskraap met 22-21 as oorwinnaars van die veld gestap.
Op Saron het die tuisspan oortuig en hul derbywedstryd teen Porterville met 43-19 gewen.
Never Despair het op hul tuisveld teen Good Hopes van Riebeek-Wes te staan gekom en die besoekers met 19-17 geklop.
Abbotsdale is vroeg in die seisoen in die voorste plek op die punteleer met 10 ligapunte, gevolg deur Wesbank en Never Despair met 9 en 8 ligapunte onderskeidelik.
Laasgenoemde twee spanne pak mekaar Saterdag in die derde ronde in ‘n derbykragmeting. Dié wedstryde is tradisioneel baie gewild en die toeskouers kan weer ‘n fel stryd verwag.

Ná die tweede ronde beklee Mamre en Saron die vierde en vyfde plekke op die punteleer met 6 ligapunte elk, gevolg deur Porterville en Moorreesburg (5 punte elk), Villagers Wittewater en Riebeek United (4 punte elk), Darling en Good Hopes (3 punte elk) en Voorberg met 1 ligapunt.
*In die ander kragmetings van die komende naweek, pak (tuisspanne eerste) Abbotsdale vir Riebeek United; Darling vir Saron; Porterville vir Mamre; Goodhopes vir Moorreesburg en Villagers Wittewater vir Voorberg.
