Nuwe R100m+ Malmesbury HS op koers
As als volgens plan verloop, sal die eerste skoliere reeds in Januarie aanstaande jaar by die splinternuwe hoërskool op Malmesbury begin skoolgaan.
Dié skool word tans teen ‘n koste van meer as R100 miljoen op ‘n gedeelte van die destydse vliegveld van Boland Lugspuitdienste gebou.

Bouwerk op die perseel aan die westekant van Malmesbury het sowat twee maande gelede begin.
Al is die duur van die kontrak 15 maande, word daar hard gewerk om te verseker die skoolgebou is betyds gereed vir 2026 se skooljaar.
Die kontrakbestuurder van Atuba Konstruksie, Nico Everts, het met ons besoek gesê hulle is tans besig met die grondwerke en beplan om aanstaande week te begin met die konstruksie van die kolomme.

Die projek is in drie fases verdeel en sluit onder meer sportfasiliteite vir sokker en netbal in. Die bou van die sportvelde sal waarskynlik in die eerste kwartaal van aanstaande jaar voltooi word.
Die kontraktuele datum is einde Maart 2026.
Met siviele werk en die bou van Sarah Baartmanweg en die verskuiwing van waterlyne deur ander kontrakteurs, moes die volgorde konstruksie van die projek ook aangepas word om seker te maak vertragings word tot die minimum beperk.

Die nuwe skool wat gebou word om 1200 kinders te huisves, sluit ‘n administrasieblok en skoolsaal in. Everts sê dit sal ‘n soortgelyke afwerking hê as die nuwe hoërskool op Darling wat van vanjaar kinders kon inneem.
Met ‘n invloei van mense na Malmesbury en omgewing, het die druk op skole ook geweldig toegeneem.

Die twee nuwe skole wat op Moorreesburg (twee jaar gelede in gebruik geneem) en Darling gebou is, het ‘n wesenlike verligting gebring, maar die druk is steeds groot op die bestaande skole.
Die nuwe skoolterrein is nie direk langs Darlingweg geleë nie, maar dieper in op erf 13011. Toegang sal vanuit die nuwe Sarah Baartmanweg verkry word. Die gedeelte van die grond aan Darlingweg is geoormerk vir ‘n toekomstige nuwe provinsiale hospitaal.

Die nuwe skool maak deel uit van die Wes-Kaap Onderwysdepartement se program om die bou van skole in die provinsie te bespoedig.
Dit sluit 10 nuwe skole (waaronder Darling Hoërskool) vir vanjaar asook die uitbreiding van bestaande skole met meer as 260 nuwe klaskamers in.
Daar is tans ongeveer 1,2 miljoen skoolgaande kinders in die provinsie.
