EntertainmentFEATURED

Gewilde Olyffees herleef met splinternuwe baadjie

Die Riebeekvallei-olyffees wat vir jare baie gewild was en in 2019 die laaste keer plaasgevind het, herleef vanjaar met ‘n splinternuwe baadjie en op ‘n splinternuwe datum.
Die fees wat deur Swartland Toerisme aangebied gaan word, sal eksklusief net op die plein in Riebeek-Kasteel plaasvind en plaaslike asook ander olyfprodusente sal hul produkte hier kan aanbied.

Die fees word vanjaar, anders as die verkeerde datum wat in die laaste paar weke foutiewelik op sosiale media gedeel is, op 27 en 28 September aangebied.
Dit word in samewerking met SA Olive gehou en die plein sal in verskillende afdelings verdeel word. Dit sal volgens plan ‘n afdeling vir kosdemonstrasies, asook afdelings vir Swartlandse produsente, buiteprodusente, ‘n BBP-area en vermaak insluit.

Die 2025 Olyffees sal ook as ‘n vertoonvenster kan dien vir die wenners van die jaarlikse Absa Top-10 Olyfolietoekennings.
Toegang tot die fees sal R350 per persoon per dag beloop en die verwagting is dat daar tot soveel as 6 000 mense oor die twee dae geakkommodeer kan word.
Die olyffees het in die verlede altyd die eerste naweek van Mei plaasgevind.
Dit sou in 2020 plaasvind en daar is reeds vroeg in die jaar ‘n mediabekendstellings gedoen, maar Covid-19 het ‘n stokkie daarvoor kom steek en die fees het nie weer plaasgevind nie.

Die bestuurder van Swartland Toerisme, Ann Heyns, sê hulle is baie opgewonde omdat dit die eerste amptelike groot geleentheid is wat die nuwe Swartland Toerisme as maatskappy sonder winsbejag aanbied.
Sy sê “almal bel nou nog en vra wanneer is dit weer olyffees.”
Die fees sal totaal gefokus wees op die olyf en al sy gebruike – vir kos en ook in skoonheidsprodukte, voeg Heyns by.
Wyn word nie uitgesluit nie, maar daar sal nie vanjaar aanbiedings en musiek by ander lokale en produsente as deel van die amptelike program aangebied word nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!