Lillies, Wesbank nog onoorwonne
Dit is nog vroeg in die seisoen en daar lê nog baie en harde rugby voor, maar Abbotsdale, verlede jaar se Swartlandkampioen, gee reeds die pas aan in die eerste posisie (15 punte) op die punteleer.
Lillies het wel hul eerste drie wedstryde van die jaar in die Boland Grootuitdaag (Swartlandstreek) gewen, maar die laaste een teen Riebeek United was nie op ‘n drafstap nie.

Die besoekers het nooit bes gegee nie en wou die kaarte deurmekaar krap. Abbotsdale moes ‘n verbete aanslag en terugvegpoging van Riebeek United die hoof bied, om met 44-41 te kon wen.
Lillies reis dié naweek na Saron terwyl Riebeek United tuis speel teen Villagers Wittewater, wat tans vierde lê op die punteleer.
Die enigste ander span wat al drie sy eerste wedstryde gewen het, is dié van Wesbank onder afrigter en oud-Springbok McNeil (Maccie) Hendricks.
Wesbank beklee die tweede plek op die punteleer met 13 punte nadat hulle die afgelope naweek in die derbywedstryd teen Never Despair met 28-12 as oorwinnaars van die veld gestap het.

Die span reis Saterdag na Moorreesburg wat tans in die negende plek lê nadat hulle tot dusver een van hul drie kragmetings kon wen.
Hulle het die afgelope naweek tuis gespeel teen Good Hopes van Riebeek-Wes. Die besoekers het die kragmeting met 30-27 gewen.
Mamre beklee in hierdie stadium die derde plek op die punteleer met 11 punte. Hulle het Saterdag hulle wegwedstryd teen Porterville met 29-20 gewen. Hulle speel die komende naweek tuis teen hul bure van Darling.
Laasgenoemde kon ná ‘n stadige begin hul eerste sege van die seisoen vier toe hulle tuis teen Saron gespeel en die wedstryd met 35-29 kon wen.

Die wedstryde vir Saterdag 29 Maart (tuisspanne eerste) is:
Mamre teen Darling
Moorreesburg teen Wesbank
Never Despairs teen Porterville
Riebeek United teen Villagers Wittewater
Saron teen Abbotsdale
Voorberg teen Goodhopes