Vroeë ‘stikstofreën’ help lig die gemoed – Dürr
Die vroeë winterreën wat gewissel het ten opsigte van neerslag, het die gemoedere van feitlik die hele landboubedryf in ‘n baie meer positiewe stemming geplaas vir die seisoen wat voorlê.
Só gesels die nuutverkose voorsitter van Agri Malmesbury, John Dürr.

Hy is op die algemene jaarvergadering tot nuwe voorsitter verkies met Hentie Smit as ondervoorsitter.
“Ons voorvaders het ‘n winter wat begin met donderweer met gewoonlik baie stikstof as ‘n teken gesien vir ‘n goeie seisoen wat voorlê,” voeg Dürr by.
“Vroeë reëns beteken gewoonlik dat onkruide, wat vir sommige – veral veeboere – ook winterweiding beteken, vinniger opkom terwyl die nagtemperature nog nie so laag daal nie en dagliglengtes ook nog nie so kort raak nie.
“Die doeltreffende vroeë bekamping van onkruide, veral by graanproduksie, is van kardinale belang om later in die seisoen die kompetisie met die graanplante te verminder. Boere word aangemoedig om te let op hul grondbewaringspraktyke en te sorg dat hul kontoerwalle en afleibane oop- en skoongemaak word vir water om vrylik daarin te kan beweeg sonder om onnodige skade aan aangrensende goeie gronde te veroorsaak.

“Veeboere, veral melk- en skaapboere, kan ook vroeër begin om weidings en kuilvoer te vestig en ook om onkruide tussen meerjarige gewasse soos medics uit te spuit, terwyl wingerdboere ook deklaaggewasse in hul wingerdrye kan begin vestig voordat die snoeiseisoen ‘n aanvang neem.
“Hierdie reëns beteken ook baie vir droëlandwingerde as ‘n ná-oes-besproeiing voordat wingerde in hul winterslaap ingaan.”

Hy sê terwyl koringpryse nog glad nie na behore herstel het nie en melkpryse steeds onder druk en die mielies (voerbron van melkbeeste) steeds duur is, kon skaapvleisboere (sedert middel Desember) en beesvleisboere (vanaf Maart vanjaar) darem begin moed skep. Vleispryse het met tot 20% gestyg en uitvoere is sterk aan die toeneem. Dit kom saam met gunstige wisselkoersskommelinge wat ook vir die wolboere in die loop van die jaar beter pryse kan genereer.

Dürr het die lede van Agri Malmesbury bedank vir die vertroue “om my as jul voorsitter vir die volgende termyn te verkies. Mag elkeen se volle insette te alle tye in jul studiegroepe en op die bestuur en die gemeenskap van Malmesbury, saam met ons geloof in ons Skepper, daartoe bydra dat ons as landbouvereniging ons regmatige plek in ons gemeenskap sal volstaan en ook sal uitbou en só ook vir ander tot seën kan wees.”

Op die jaarvergadering is Erna Thiart tot die nuwe sekretaresse verkies met Philip Geldenhuys as die assistent-sekretaris.
Die voorsitters van die onderskeie studiegroepe is Charl Hamman (suiwelstudiegroep), Pieter Stoffberg (wingerdstudiegroep), Eben Schellink (skaapstudiegroep) en Jan Bester (koringstudiegroep).
Die addisionele lede op die bestuur is: Paul Truter (verteenwoordiger vir brandbestryding), Gert Claassen (verteenwoordiger vir watersake), Graham Willers (verteenwoordiger vir veiligheid), Liam Viljoen (streekbestuurslid by Agri Wes-Kaap), Uys van der Westhuijzen (voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid: landelike veiligheid), Michiel Smuts, Truter de Kock en Jopie de Kock (Agri Wes-Kaap Jongboer-bestuurslid).
