Sports

Wittewater, N Despair knip voorlopers se segetog kort

Die skinkborde is weggebêre en pasellas het skielik skaars geraak.
In die afgelope naweek se Boland Rugby Grootuitdaagkragmetings in die Swartland moes die enigste twee onoorwonne spanne vir die eerste keer vanjaar die knie buig.

Vir die Swartlandkampioen van verlede jaar, Abbotsdale, het ‘n droombegin van vyf agtereenvolgende seges met ‘n bonuspunt in elk, tot ‘n einde gekom.
Never Despair, wat voor die naweek in die sewende plek op die punteleer was met drie seges in vyf wedstryde, was Saterdag die gasheer. Hulle het die verdedigende kampioen met 24-20 geklop. Lillies, wat met minder as sewe punte verloor en só een bonuspunt verdien het, is steeds bo-aan die punteleer op 26 punte.
Die een span wat vanjaar half verras en hul stem laat geld, is dié van Wittewater. Nadat hulle voorheen afgeskryf is, toon hul spel week ná week dat hulle nie onderskat moet word nie.

Die manne het tot dusver met Darling, Voorberg en Riebeek United afgereken.
Villagers Wittewater het toe Saterdag wéér gewys dat hulle nie buite rekening gelaat kan word nie, toe hulle gasheer was vir die enigste ander onoorwonne span, dié van Wesbank.
Die besoekers was voor die naweek in die tweede plek op die punteleer op 22 – drie punte agter Abbotsdale.
Villagers Wittewater het die kragmeting naelskraap met ‘n enkele punt (17-16) gewen nadat Wesbank rustyd met 10-8 voorgeloop het.
Die besoekers het 1 ligapunt verdien om hul tweede posisie op die punteleer te behou.
Villagers Wittewater het tans saam met Good Hopes en Saron elkeen 19 ligapunte. Good Hopes lê vierde en Saron met ‘n kortkop voor Villagers Wittewater in die 5de plek met ‘n skamele twee punte beter op die punteverskil.

Die span van Darling, wat die seisoen stadig begin het, het Saterdag die spanne van Moorreesburg ontvang en die eerstespan het met ‘n sege van 15 -10 hul derde plek op die punteleer behou (nou slegs een punt agter Wesbank op 22 ligapunte).
In die ander kragmetings van die naweek was Good Hopes (tuis) te sterk vir Porterville (wen 38-31); het Riebeek United (tuis) met 24-37 die knie gebuig voor Porterville en het Voorberg (tuis) met 18-36 vasgeval teen Mamre.

Die spanne het ‘n ruskans hierdie naweek en die liga hervat op 26 April.
Dan pak (tuisspanne eerste): Porterville vir Wesbank; Good Hopes vir Darling, Moorreesburg vir Abbotsdale; Never Despair vir Villagers Wittewater; Mamre vir Riebeek United en Saron vir Voorberg.

Leave a Reply

error: Content is protected !!