Bonuspunte skei Lillies, Wesbank
Bonuspunte speel tans ‘n groot rol op die punteleer van die Swartland-streek in Boland Rugby se Grootuitdaag-kompetisie.
Die twee voorste spanne, steeds Abbotsdale (tans op nommer 1) en Wesbank (tans op nommer 2), het tot dusver onderskeidelik sewe en vier bonuspunte verdien in hul eerste sewe wedstryde.

Die drie bonuspunte wat Lillies meer verdien het, is ook die verskil in hul ligapunte – tans op 31 en 28 punte onderskeidelik.
Abbotsdale het Saterdag hul wegwedstryd teen Moorreesburg met 31-23 gewen, terwyl Wesbank ook gereis het en op Porterville in ‘n spannende kragmeting teen die tuisspan met 31-27 geseëvier het.
In ‘n derbykragmeting tussen die twee buurspanne van Saron en Voorberg, het Saron Saterdag net te veel skietgoed gehad en ‘n sege van 34-26 behaal.

Good Hopes het in aanloop tot die komende naweek se derby teen Riebeek-United tuis gespeel teen Darling. Die melkboere moes met 20-14 die knie buig. Albei spanne het tot dusver vier wedstryde gewen.
Op Riebeek-Kasteel het die besoekende span van Mamre ook hul vierde sege van die seisoen behaal toe hulle die tuisspan, wat vanjaar sukkel om op dreef te kom, met 58-36 geklop het.

Never Despair het op hul tuisveld ‘n naelskraapse oorwinning van 38-36 oor Villagers Wittewater, een van die spanne in dié liga wat tot dusver vanjaar verrassend goed vaar, behaal het.
Naas die derbykragmeting op Riebeek-Kasteel die komende naweek wat reeds die belangstelling gaande het, is die ander wedstryde op die program vir 3 Mei (tuisspanne eerste) soos volg:
Abbotsdale teen Darling
Porterville teen Villagers Wittewater
Wesbank teen Voorberg
Moorreesburg teen Saron
Mamre teen Never Despair