Neffens die Voorblad

Plaaslike owerheid: mag ons vra?

In die Swartland is inwoners gewoond aan van die beste dienslewering – gemeet aan die dienste wat inwoners in al die ander munisipale gebiede regoor die land ontvang.
In die Swartland word die meeste strate en areas darem redelik skoongehou deur die plaaslike owerheid. Let wel: Die meeste.
In die Swartland is die politieke verteenwoordigers en amptenare nogal sigbaar by geleenthede waar daar goeie goed gebeur, soos die begin en voltooiing van ontwikkelings en aksies – positiewe gebeurtenisse.
Die Swartland het oor jare verskeie toekennings vir goeie plaaslike regering ontvang en is ook dikwels as baanbrekers op ‘n gebied vereer.

Dit als gesê, sal dit egter bitter naïef wees en selfs dom om nie tog deurlopend vrae te vra en so ‘n owerheid verantwoordbaar te bly hou nie.
Die vraag moet ontstaan of daar ‘n waghond is.
Nie ‘n ouditeur-generaal wat seker maak of al die blokkies afgemerk is nie. (Dit is immers dikwels maklik om net vir die reëls te speel en daar is gewis aspekte wat nie daarin bekyk word nie. Onthou ook in die private sektor word korrupsievrye/goeie finansiële bestuur nie as ‘n uitnemende prestasie beskou nie. Elke werknemer word mos betaal om bepaalde pligte noukeurig uit te voer.)
En op skool is dit maar redelik flou as jy eerste in die klas staan, maar die gemiddelde is 50%.

‘n Plaaslike owerheid is ‘n baie groot instansie en kan als virseker nie altyd klopdisselboom en net mooi en goed gaan nie.
Mense in posisies neem besluite en oefen diskresie uit wanneer hulle toegelaat word, wil of dit hulle pas.
Is daar dalk mense wat groter geword het as die posisie waarin hul is – in diens van die belastingbetaler?
Ons woon in ‘n polities diverse land met erge politieke bagasie. Dit is ‘n gegewe.
Die vraag is, hoe word dit bestuur en word inwoners/belastingbetalers soms steeds deur iets soos rassisme of omgekeerde rassisme benadeel?
Wanneer ‘n instansie bv. ná inspeksie die nodige goedkeuringshandtekening kry van die betrokke verantwoordelike persoon en niks daarna verander nie, maar oor ‘n jaar weier dieselfde hoof skielik om nakoming weer af te teken, dan begin daar vrae ontstaan.

In nasionale politiek is daar partye wat voel daar moet eerder gekyk word na besnoeiing van onnodige uitgawes eerder as om nog belastings te verhoog.
Word daar op plaaslike vlak deurlopend diep en dringend gekyk na doeltreffender maniere om dieselfde diens te lewer of word tariewe net hoër?
Daar is beslis uitstekende praktyke, maar personeeluitgawes is byvoorbeeld besonder hoog en dra gewis daartoe by dat dit nie so goedkoop is om in die Swartland te woon nie. Kan daar nie slimmer met minder personeel dieselfde werk gelewer word nie? Vakbonde, ja vakbonde (verskoning?), maar kan daar dan oor tyd dalk eerder net skuiwe gemaak word wanneer personeel die diens verlaat eerder as om nuwe mense aan te stel? Of word dit reeds ernstig gedoen?
Is, naas ‘n groot personeelmag (omdat die wette/regulasies dit toelaat, ja), amptenare se salarisse nie ook besonder hoog nie?
Daar is inderdaad onkunde by ons hier op straat oor die verskillende verantwoordelikhede van die sfere van regering – plaaslik, distrik, provinsiaal en nasionaal.
Dikwels is dit ‘n provinsiale of nasionale plig wat dan deur inwoners van die plaaslike owerheid verwag word. Bv. die bou van huise? Of net die fasilitering daarvan?
Daar is teerstrate/paaie wat nie goed in stand gehou word nie. Provinsiale roetes word gedeel tussen plaaslike en provinsiale owerheid. Daar is egter baie inwoners wie se strate nog net grond is met die gepaardgaande stof/modder.

Is die enigste manier om hierdie land (nasionaal en die Swart-) se toekoms helderder eerder as dowwer te maak, nie om ALS MOONTLIK in werkskepping/die ekonomie, maatskaplike ontwikkeling en opvoedkunde te ploeg nie?
Is die wil regtig daar om dit om te draai? Is daar werklik ‘n ingesteldheid van – buite my pligtestaat uit die boksie dink?
Die plaaslike owerheid doen inderdaad baie met ontwikkelingsaksies, maar waar lê die suksesse in die praktyk en IS DIT GENOEG?
Of dit nou deel van hul mandaat/verantwoordelikheid is of nie, moet daar nie NOG meer gedoen word nie? Inisiatiewe om werk te skep en entrepreneurskap aan te moedig – vennootskappe met kenners – vennootskappe wat op GROOT SKAAL werk.

Jy hoef nie met vergrootglase te lewe om die sosio-ekonomiese verval in die Swartland die afgelope 10 tot 15 jaar waar te neem nie. Moontlik ook ‘n vergroting van die gaping. Dit het dalk ook te duur geword vir die armer mense van ons gemeenskap om hier te woon – net kop bo water te hou.
Moet ons hierdie tendens aanvaar? Al die mooi goed waarvoor die plaaslike owerheid geprys word ten spyt, lyk dit dan onafwendbaar dat dit oor ‘n klompie jare glad nie meer so ‘n aangename plek sal wees om te woon nie.
Plak ons pleisters met polisiëring en sulke aksies, terwyl ons eintlik net veldslaggies wen? Net veldslaggies.
Watter rol speel invloedryke magte en beheer in ons lot?
Watter rol gaan (nuwe?) politieke leiers en die omwenteling in die plaaslike owerheid se top-bestuur binne die volgende twee jaar speel om hierdie oënskynlike wegholtrein te laat versnel of te briek?
Wat gaan van ons word?

Leave a Reply

error: Content is protected !!