LatestSports

Good Hopes bo in Riebeek-derby

‘n Derbykragmeting is dikwels ‘n gelykmaker met spelers wat met passie net so ‘n rapsie ekstra gee vir hul span en hul gemeenskap.
Die naweek se Boland Grootuitdaag-wedstryd op Riebeek-Kasteel tussen die eerste rugbyspanne van die gasheer, Riebeek United, en Good Hopes van Riebeek-Wes het nie teleurgestel nie en opwindende rugby opgelewer.

Good Hopes, wat tot dusver ‘n goeie seisoen in die Swartlandstreek van dié kompetisie beleef, was van meet af wel die gunsteling. Hulle is tussen die voorste vier spanne op die punteleer, terwyl Riebeek United nog nie vanjaar behoorlik op dreef kon kom nie.
Die tuisspan was egter oorgehaal om as houer van die Riebeekvallei se kampioentrofee dit nie op ‘n skinkbord weg te gee nie.

Good Hopes het baie vroeg in die wedstryd die eerste punte op die telbord geplaas toe hulle ‘n skop op Riebeek United se doellyn afgestorm het vir ‘n verdoelde drie.
Die tuisspan het sewe minute later met ‘n agterlynbeweging gesorg dat hulle in die prentjie bly met ‘n onverdoelde drie naby die hoekie.
Vier minute later het die besoekers teruggeslaan met ‘n goeie lopie en die telling tot 12-5 geneem.
Die tuisspan het later ‘n strafdoel behaal vir die rustydtelling van 12-8 in die besoekers se guns.

Good Hopes het eerste lont geruik in die sesde minuut van die tweede helfte. Met ‘n vinnige tikskoppie van ‘n strafskopmerkie op die vyftreelyn het hulle die tuisspan onverhoeds betrap en met ‘n verdoelde drie hul voorsprong gerek na 19-8.
Die tuisspan het egter nie bes gegee nie en onmiddellik aangeval om enkele minute later die doellyn oor te steek en sodoende binne trefafstand te bly met 19-15.
Hierna was daar, soos in die eerste helfte, ‘n lang puntedroogte voor die besoekers in die 36ste minuut van dié helfte nog ‘n drie gaan druk het om hul voorsprong te rek na ‘n gemaklike 24-15.
Riebeek United het bly aanval om nog vir oulaas agter die doellyn te gaan kuier om die eindtelling op 24-20 vir die besoekers bring.

In die ander Grootuitdaagwedstryde van die naweek het die twee voorste spanne op die punteleer, Abbotsdale en Wesbank, beide tuis gespeel en onderskeidelik met Darling (33-26) en Voorberg (75-15) afgereken.
Ook Saron (weg teen Moorreesburg: 41-30), Mamre (tuis teen Never Despair: 34-20) en Porterville (tuis teen Villagers Wittewater: 36-29) het hul kragmetings gewen.
*Die komende naweek se bepalings (tuisspanne eerste):
Darling teen Porterville
Wesbank teen Abbotsdale
Good Hopes teen Saron
Riebeek United teen Moorreesburg
Villagers Wittewater teen Mamre
Voorberg teen Never Despair

Leave a Reply

error: Content is protected !!