Swartlandse “rocker” wen by Suidoosterfees
Toe hy Sondag by die Suidoosterfees in Kaapstad op die verhoog klim in die eindronde van die fees se Talentsoek, het PJ Durr (25) van Malmesbury nie verwag om te wen nie.
dié courant het met hom gaan gesels oor sy musiek en dié prestasie.
“Dit was nogals baie onverwags,” sê hy.
Maar hoekom onverwags? Jy is mos goed.
“Uhm… ek glo dit nou.”

Die Suidoosterfees Talentsoek is ‘n jaarlikse aanlyn kompetisie vir talentvolle sangers, dansers, musikante en komediante van die Wes-Kaapse stedelike en landelike gemeenskappe om opleiding, optree- en loopbaangeleenthede te ontvang.
Talentvolle kandidate van 9 tot 35 jaar oud van die Wes-Kaap neem deel aan aanlyn oudisies om beoordelaars met hul vaardighede in dans, sang, instrumentele musiek en skerpskets-komedie te beïndruk.
Naas die prysgeld vir die algehele wenner, ontvang die beste danser ’n beurs vir ’n jaar se studie aan die Kaapse dansskool, Dance for All.
PJ (Pieter-Jans) sê hy sing al van kleins af. Sy pa, John, vertel hy het as klein seuntjie al gesit en musiek gemaak met sy eie instrumente en trommetjie.
By die Laerskool Swartland het PJ ook opgetree onder meer op ‘n vragmotorwa by die skool se jaarlikse kermis.

Deesdae skryf hy sy eie musiek.
Hy het al ‘n paar liedere opgeneem en van hulle is op verskeie platforms beskikbaar.
PJ self het verlede jaar by drie optredes van Francois van Coke by Die Boer in Durbanville geopen.
Hy het ook ‘n Afrikaanse orkes/”band” – Die Gemorstes – begin.
Die ander orkeslede is Philip Venter (kitaar), Truter Basson (baskitaar) en Martin Spamers (tromme).
“Ons doen rock. Dit leun so effens na metal toe. Vir my is dit baie geïnspireer deur Fokofpolisiekar en oorsese bands soos Sum 41 en Green Day se tipe musiek.
“Ons gaan seker ‘n paar Engelse covers doen, maar ons eie musiek is net Afrikaans.”
Hulle oefen gereeld in die Paarl en hy hoop dat hulle teen die einde van die jaar se kant gereed sal wees vir hul eerste optrede.

Watter musiek luister hy? “Ek is ‘n groot metal head, maar ek luister ‘n verskeidenheid van genres. Maar die main genres is maar rock en metal. Dit is maar die swaar goed. Dit is maar waar ek bly.”
Toe hy klein was, “was daar nog tapes. My pa het ‘n bietjie Klipwerf se boeremusiek gespeel. Soos ek ouer geraak het, het ek gehoor my broer-hulle luister musiek van Lincin Park en Green Day en Avril Lavigne.
“In graad vier het iemand vir my ‘n liedjie gespeel van Bullet for My Valentine en toe is ek weg. Van daar af het dit gegroei. Ek hou van alles, maar metal is maar my ding.”

Hy “skryf meesal oor iets wat ek deurgegaan het. Dalk oor ‘n donker tyd in my lewe en probeer dit aanpas dat mense kan relate daarmee. Baie mense gaan maar deur ‘n struggle met psigiese gesondheid – mental health.”
“Musiek help my ook baie. Dit is terapeuties. Mense het dikwels die wanpersepsie dat dié wat metal luister baie aggressie het, maar hulle is meesal baie rustig want daardie musiek help hulle om van aggressie ontslae te raak.”

By die Suidoosterfees se Talentsoek is “altesaam 30 belowende kandidate vir die semifinale ronde gekeur nadat,” luidens die webwerf, ’n “magdom inskrywings deur hoopvolle amateurs van oral in die Wes-Kaap ontvang is”.
By dié ronde wat by die amfiteater van die Kaapstadse Waterfront gehou is, was PJ toe die gehoor se keuse om outomaties deur te dring na die algehele eindronde vir al die afdelings.
Al het hy gehoop om onder die top-plekke in die eindronde te eindig, het hy “nie gedink ek gaan heeltemal wen nie.
“Daar was baie goeie performers. Hulle almal was regtig fantasties.”
Hy het besluit op die lied Enemy wat hy nog nie voorheen voor ‘n gehoor gedoenhet nie en ook besluit om sonder sy kitaar te sing en eerder op die uitvoering en sy stem te fokus.
Een van die beoordelaars het ná die prysoorhandiging gesê PJ “het bitter baie talent”.

Luidens die webwerf sal die algehele wenner ook genooi word vir ’n gasverskyning in kykNET se gewilde sepie Suidooster.
PJ sê hy werk tans aan nuwe musiek.
*Gepols oor sy gesondheid ná die nieroorplanting in 2022.
“Ek gaan binnekort weer vir ‘n opvolgondersoek, maar laas toe ek daar was, was dit alles 100%.”