Sports

Wesbank stoot Lillies van boonste plek

In die negende ronde Swartland-wedstryde in vanjaar se Boland Grootuitdaag tussen die twee top-rugbyspanne, Abbotsdale en Wesbank, was die voorste posisie op die punteleer Saterdag op die spel.
Abbotsdale het vroeg in die seisoen die voortou geneem en week ná week ‘n bonuspunt ingesamel om hul plek op die boonste trappie van die podium te verstewig.

Wesbank was vanuit die staanspoor in die tweede plek en beide spanne was onoorwonne tot die 12de April toe hul onderskeidelik teen Never Despair en Villagers Wittewater vasgeval het.
Voor Saterdag se stryd het Abbotsdale met 8 bonuspunte en ‘n punteverskil van 83 ‘n totaal van 36 ligapunte gehad terwyl Wesbank met vyf bonuspunte en ‘n punteverskil van 127 steeds tweede was op 33 ligapunte.
Die tafel was gedek vir ‘n grote op Wesbank se tuisveld.

Die besoekende Lillies het die rekening geopen en eerste 3 punte op die telbord geplaas.
Daarna het die tuisspan geantwoord met twee suksesvolle pogings pale toe om die voortou te neem met 6-3.
Dit was ook die rustydtelling.
Ná rustyd het die tuisspan met ‘n verdoelde drie die gaping tot 13-3 laat rek, voor Lillies op hul beurt geantwoord het met ‘n drie om nader te kruip tot 13-10.
Die wedstryd was ver van klaar toe Abbotsdale weer agter die doellyn gaan kuier het en die voortou geneem het (15-13).
Wesbank het teruggeslaan en ‘n verdoelde drie opgevolg met ‘n skepdoel om weer 23-15 voor te loop.
Lillies het nie bes gegee nie en agter die doellyn gaan kuier (23-20) voor die tuisspan die bal weer deur die pale gejaag het vir die eindtelling (26-20) en so ook die eerste posisie op die punteleer by Abbotsdale afgeneem.
Dissipline en kaarte uit die skeidsregter se sak het die besoekers duur te staan gekom.

Abbotsdale het weer ‘n bonuspunt gekry (met 7 of minder punte verloor).
Beide spanne het 37 ligapunte, maar met hul groter punteverskil (133 punte) lê Wesbank nou eerste en Abbotsdale (punteverskil van 77 punte) in die tweede plek
In die ander wedstryde het Good Hopes (tuis) vir Saron met 36-20 geklop; Darling (tuis) met 10-15 vasgeval teen Porterville; Riebeek United (tuis) naelskraap met 19-18 vir Moorreesburg geklop; Villagers Wittewater (tuis) met 29-16 geseëvier oor Mamre en Voorberg (tuis) net-net met 22-23
verloor teen Never Despair.
Good Hopes spog ook met 9 bonuspunte tot dusver en het met hul sesde oorwinning van die seisoen hul posisie in die derde plek verstewig. Die gaping agter die voorloper het nou van 8 punte tot 4 gekrimp.
Hulle word op die punteleer gevolg deur (in volgorde) Saron, Villagers Wittewater, Mamre, Never Despair, Darling, Porterville, Riebeek United, Moorreesburg en Voorberg.

Die bepalings vir die komende naweek (tuisspanne eerste) is:
Darling teen Wesbank
Porterville teen Voorberg
Good Hopes teen Abbotsdale
Moorreesburg teen Villagers Wittewater
Never Despair teen Riebeek United
Saron teen Mamre.

Leave a Reply

error: Content is protected !!