Anne Pienaar, Onse Hoop vier inspuiting
As ‘n inspuiting in die onderrig en opvoeding in en om Malmesbury deur donateurs is ‘n splinternuut toegeruste skoolbiblioteek geopen en die moontlikmaak van ‘n nuwe kleuterskool Donderdag gevier.
Die primêre skool Anne Pienaar Gedenk in die Paardeberg het ‘n toegeruste biblioteek ontvang en die Onse Hoop-kleuterskool in die nuwe De Hoop-ontwikkeling in vennootskap met die nie-winsgewende Maranatha Trust is amptelik in gebruik geneem.

‘n Persverklaring lui dat wat begin het as ‘n eenvoudige idee om leerders in die Klein Karoo te help, gegroei het tot een van die land se mees blywende samewerkings van korporatiewe maatskaplike belegging.
“Dit maak deel uit van ‘n voortgesette gees van samewerking tussen Ninety One, AVBOB Mutual Assurance Society, Professional Provident Society (PPS) en Alexforbes.
“Dié instansies is trots om die volgende hoofstuk in hul langtermynverbintenis tot onderwys en gemeenskapsopheffing aan te kondig deur die 2025 ‘Building a Better Boland’-inisiatief.
“Die biblioteek by Anne Pienaar Gedenk is deur The Bookery toegerus is.

“Die inisiatief, bestuur deur The Bookery, sal toegang tot geletterdheid uitbrei vir die 216 leerders van Anne Pienaar Gedenk.
“The Bookery skep en ondersteun skoolbiblioteke om die ernstige tekort aan biblioteke in Suid-Afrikaanse skole aan te spreek, deur inspirerende ruimtes, relevante en herkenbare boeke, toegewyde bibliotekarisondersteuning en voortdurende ontwikkeling te kombineer.
“Hierdie unieke, meerjarige benadering is ontwerp om langtermynimpak te lewer en die grondslag te lê vir lewenslange leer.
“Dit is die 99ste biblioteek wat in die afgelope 15 jaar deur The Bookery toegerus is. Die Bookery het meer as 170 bibliotekarisse opgelei en tot dusver meer as 95 000 leerders bereik.”

Annemarie Duvenhage, skoolhoof by Anne Pienaar Laerskool, vertel die skool se biblioteek is vernoem na Cheryl Coetzee, ‘n onderwyseres wat byna 40 jaar van haar lewe in die grondslagfase by Anne Pienaar onderrig het. Sy is in 2020 aan COVID oorlede en “ons wil altyd die bydrae wat sy tot lees gelewer het, onthou. Die skool is meer as 20 km van enige openbare biblioteek af en daarom is die biblioteek so belangrik vir die leerders en die gemeenskap.
“Boeke help kinders om beter te lees. Dit leer hulle oor dinge wat hulle nog nooit gesien en gehoor het nie en dit plaas drome in hul harte. Kinders begin vir hul ouers lees en ouers lees vir die kinders, wat kosbare verhoudings bou.”

*Die Onse Hoop-kleuterksool in die De Hoop-woonbuurt bestaan “uit twee fases wat tot 130 kinders sal kan huisves in ‘n hoëgehalte-voorvervaardigde struktuur, met ‘n multifunksionele biblioteek en gemeenskapsruimte,hoësekuriteitsheinings en ‘n sonkragstelsel om volhoubaarheid te verseker.”
