LatestSportsUncategorized

Koringboere troef melkboere

‘n Wegholsege vir die voorlopers en ‘n sussiesoen-gelykopuitslag vir die ander spanne tans op die podium.
Só kan die naweek se rugbyaksie in die Swartlandstreek se wedstryde in die Boland se Grootuitdaag beskryf word.

Hoofwedstryde in die onderskeie ligas is Saterdag voorafgegaan met ‘n oomblik van stilte ter nagedagtenis aan die geliefde oud-Springbok Cornal Hendricks wat Woensdag oorlede.
Op Darling het die koringboere van Wesbank, wat onlangs die eerste posisie by Lillies van Abbotsdale afgeneem het, amok gemaak toe hulle die melkboere in hul eie stal vasgepen en met 71-27 geklop het.
Met dié groot oorwinning het Wesbank nou ‘n voorsprong van 3 ligapunte opgebou.

‘n Oomblik van stilte ter nagedagtenis aan oud-Springbok Cornal Hendricks

Abbotsdale, die voorlopers vir die grootste deel van die eerste helfte van die seisoen, het op Riebeek-Wes met die begeesterde span van Good Hopes (in die derde plek op die punteleer) kennis gemaak.
Nadat die tuisspan eerste hul nul van die telbord kon vee, het Lillies hul voete gevind en met 10-3 die voortou geneem voor Good Hopes twee keer gaan druk het om met die omdraaislag 15-10 voor te loop.
Hulle het in die veertiende minuut van die tweede helfte die voorsprong gerek met nog ‘n verdoelde drie (22-10). Abbotsdale het sewe minute later ook die doellyn oorgesteek om seker te maak hulle bly binne bereik (22-15).

‘n Lang puntedroogte het gevolg voor Lillies weer by die pale gaan kuier het om die telling op 22-22 gelyk te maak. Dit was ook die eintdelling.
In die naweek se ander kragmetings in die voorlaaste ronde van die eerste helfte van die seisoen, het Saron (tuis) vir Mamre met 36-32 geklop en so hul vierde plek op die punteleer behou.
Never Despair (tuis) het met hul sege van 40-29 oor Riebeek United opgeskuif in die 5de plek.
Moorreesburg (tuis) het Villagers Wittewater met 21-17 geklop en Porterville was op hul tuisveld te sterk vir die bure van Voorberg (47-30).

* Die bepalings vir die komende naweek lyk só (tuisspanne eerste):
Wesbank teen Riebeek United
Abbotsdale teen Porterville
Saron teen Never Despair
Mamre teen Moorreesburg
Villagers Wittewater teen GoodHopes en
Voorberg teen Darling.

Leave a Reply

error: Content is protected !!