Jan Smuts se lewe weer herdenk
Jan Christaan Smuts is internasionaal een van die mees bekende en gerekende boorlinge van die Swartland.
Hy is op 24 Mei in 1870 op Riebeek-Wes gebore en het as staatsman, militêre leier en filosoof bekend geword.
Elke jaar in Mei word ‘n gedenkdiens gehou by Smutshuis, waar Smuts sy eerste ses kinderjare deurgebring het.

Hy was volgens rekords baie siek as kind en het geen formele skoolonderrig ontvang voor hy 12 jaar oud was nie. Hy was toe in die skoolkoshuis Die Ark. Sy ouers wou glo hê hy moes ‘n NG-predikant word.
Smuts het op Stellenbosch aan die Victoria College (deesdae Stellenbosch Universiteit) gaan studeer. Hy is later Engeland toe waar hy aan die Cambridge Universiteit sy studies voortgesit het.
Hy was in sy latere jare ook kanselier van die Cambridge Universiteit.
‘n Standbeeld van veldmaarskalk Jan Christaan Smuts staan ook op die parlementplein in Londen.

By die jaarlikse gedenkdiens by Ongegund buite Riebeek-Wes vind daar kransleggings plaas. Dit word gehou in samewerking tussen die Moth (Memorable Order of Tin Hats) en die Genl. Jan Smuts Regiment (voorheen Regiment Westelike Provincie).
Smuts het in 1947 as die Unie van Suid-Afrika se eersteminister die Britse koning en sy gesin (Koning George, Koningin Elizabeth en die twee prinsesse, Ellizabeth (later ook koningin) en Anne, ontvang toe hulle Suid-Afrika vir twee maande besoek het.
Hy was die leier van die Verenigde Party wat die daaropvolgende jaar met meer stemme maar minder setels die nasionale verkiesing teen die party van ‘n ander bekende staatsman uit Riebeek-Wes, dr. D.F. Malan, verloor het.

‘n Klompie jare gelede het dié courant berig oor ‘n praatjie deur die 17de van Smuts se 26 kleinkinders, Mary Tait, by die Malmesbury Museum.
Sy het vertel Smuts was slegs een dag verloof aan haar ouma, Isie (van Stellenbosch), voor hul getroud is.
“Hy was: die enigste nie-familielid wie se foto op Winston Churchill se lessenaar gepryk het; ‘n Suid-Afrikaanse eersteminister én een van slegs vyf lede van die Britse oorlogskabinet vir Wêreld-oorlog ll en die enigste persoon wat geveg het tydens die Tweede Boereoorlog én betrokke was by die ondertekening van vredesluiting vir WO1 én WOll.”

Sy het bygevoeg dat hy “beskou word as een van die drie briljantste beurshouers wat Cambridge University nog opgelewer het (die ander is Charles Darwin en John Milton).”
“Die algemene opvatting was dat hy afsydig, intellektueel en sonder humor was,” het Mary Tait van Johannesburg gesê.
“Maar dit kon nie verder van die waarheid verwyder wees nie. Hy het hom laat welgeval met sy hele gesin wat ook nog drie plattelandse skoolkinders ingeneem het om te verhoed dat hulle weens finansiële probleme hul studies sou moes staak. Hy was elke naweek bly as sy getroude kinders met kleinkinders en al, kom kuier het.

“Oupa was baie lief vir ongewone troeteldiere – sy leeuwelpie, sy meerkat en muishonde het gereeld opslae gemaak. Hy was baie lief vir Tafelberg en het elke keer as hy in die omgewing was, die berg twee tot drie keer per week uitgeklim. Die enigste keer toe hy dit nié gedoen het nie, was tydens die koninklike besoek, toe hy saam met die koninklikes in die kabelkar teen die berg moes uitry.”

“Ons onthou hom vir sy menswees. Iemand wat nie goed was met fotografie nie, maar baie lief was daarvoor. Verder was hy nie ‘n goeie motorbestuurder nie, maar ook lief vir bestuur,” het Mary vertel.
“My oupa het die dag voor sy dood daarop aangedring om na Rust de Winter geneem te word; ‘n rit van langer as twee uur, omdat hy graag sy Afrikanerbeeste wou sien. Daardie dag het hy nog gesê: ‘Geniet die grond terwyl dit kan, want hierdie grond is kosbaar’.”
Smuts is in 1950 op die ouderdom van 80 oorlede.
