EntertainmentLatestOns Mense

Swartlanders se werk ingesluit in Woordfees se bundel

Die Stellenbosch Woordfees publiseer sedert 2016 jaarliks ‘n kortverhaalbundel as deel van ‘n kompetisie waar die algehele wenner die afgelope paar jaar met R30 000 wegstap.
Uit die 329 inskrywings vir vanjaar se kompetisie is 23 kortverhale, waaronder dié van Swartlanders Anna-Bet Stemmet en Herman Jonker, gekeur om in die 2025-bundel te verskyn.

Anna-Bet Stemmet woon op Malmesbury. Sy is ‘n kopieskrywer en vertaler en “doen eintlik meer bemarkingskryfwerk as enigiets anders,” vertel sy aan dié courant.
“Ek dig van tyd tot tyd. Ek is deel van so ‘n digtersbende ook, maar dit is eintlik maar selde. So een of twee keer per jaar.” Dié Oopmond-groep doen dan verhoogoptredes.
Sy sê sy “het die deadline vir hierdie kompetisie gemaak met ‘n dag.
“Ek het geweet ek wil inskryf, maar letterlik die laaste dag voor ek dit moes ingee, toe gebeur daar ‘n ding met my. ‘n Real life occurence en toe gaan sit ek en ek skryf dit neer..
“Ek het dit begin skryf en seker in twee ure klaar geskryf en nie eers tyd gehad om dit te polish nie, want dit moes letterlik die volgende dag in wees.”

Herman Jonker, wat ook dig, woon op Riebeek-Kasteel. Hy sê hy het sy stories nog nooit gepubliseer as kortverhale nie, “maar hier lê ‘n bundel waaraan ek werk. Nou al ‘n klompie jare. Daardie folder sal seker een of ander tyd beslag kry. Ek dink hy kort nog so drie of vier verhale.”
“Ek is mos maar eintlik ‘n kontreiskrywer.” Die storie wat hy ingestuur het, “is ook ‘n kontreistorie. Dit is hoekom ek baie bly is dat daardie, noem dit nou maar die genre van kontreistories, ook ‘n slag ‘n beurt kry, want alles kan tog so literêr wees.”
Jonker sê hy “is nie rêrig ‘n skrywer nie. Ek is ‘n storieman. Myne kom maar van kampvure af, want ek het al om kampvure met wonderlike storievertellers gesit. Ek kom glad nie van die literêre kant af nie,” voeg hy by.

Die algehele wenner van dié Woordfees-kompetisie word met die bekendstelling van die bundel op vanjaar se Stellenbosch Woordfees aangekondig. Elkeen van die ander digters wie se werk opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000 en ’n EasyEquities-beleggingsrekening met R500 om te belê.
Die bundeltitel is altyd dieselfde as die jaartema van die fees. Die eerste bundel, Bly, het in 2016 verskyn.
“Vanjaar,” luidens die mediaverklaring oor die nuwe bundel, “is die titel Deel, wat aansluit by die fees se viering van 25 jaar van stories, kuns, kultuur en uitdrukking.”
Die kortverhaalskrywers hoef egter nie die feestema in ag te neem nie en kon Afrikaanse verhale skryf waaroor hulle wil. Slegs een inskrywing per skrywer is toegelaat en die verhale moes ’n minimum van 1 500 woorde lank wees, met 3 000 as die maksimum woordtelling.
“Stories is die hartklop van die Woordfees, wat begin het as ’n deurnagviering van Afrikaanse woordkuns in 2000,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees.
“Die EasyEquities Skrywersfees is steeds die hart van die fees, wat tot een van die grootste kunstefeeste op die vasteland gegroei het. Met dié kompetisie lok ons jaar op jaar meer topskrywers en die gehalte van vanjaar se inskrywings spreek tot die groot spronge wat ons in tien jaar met die kompetisie gemaak het.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!