Koringboere val vas vroeg in 2de helfte
Die eerste ronde van die tweede helfte in vanjaar se Boland Rugby Grootuitdaagliga het nie vir die Swartlandse voorloper, Wesbank, op ‘n suiwer noot afgeskop nie.
Die koringboere wat ‘n paar weke gelede vir Abbotsdale om die top-posisie verbygesteek het, het dié naweek vasgeval.
Wesbank kon geen ligapunte by hul 47 uit die eerste helfte van die seisoen voeg toe hulle op Saron deur die tuisspan in hul spore gestuit is nie.

Saron het met hul sege van 18-8 nou die tweede plek op die punteleer ingeneem, maar Abbotsdale (nou 3de) het die naweek ‘n loslootjie gehad en het dus minder wedstryde gespeel.
Wesbank is steeds in die eerste plek.
In nog ‘n verrassing het Mamre op gemaklike wyse met 41-9 met die besoekers van Riebeek-Wes, Good Hopes, afgereken. Mamre het nou opgeskuif in die vierde plek op die punteleer met Good Hopes wat afgeskuif het in die sewende plek.
In hul kragmeting op Wittewater het die tuisspan, Villagers, hul sege oor die melkboere van Darling vroeër die seisoen herhaal en ‘n taai wedstryd met 12-6 gewen.
Die besoekers het die wedstryd eintlik in die eerste helfte verloor en was met die omdraaislag reeds 12-0 agter.
Dit sou in die nat toestande ‘n enorme poging verg om sake om te draai.
Darling het egter wel in die tweede helfte soos ‘n ander span gelyk en verbeter teruggeveg.

Die tuisspan kon geen punte in dié helfte aanteken nie en Darling het tot in die doodsnikke met aanhoudende aanvallende spel hul wenkanse lewend gehou, maar kon net nie afrond om agter die doellyn te gaan kuier nie.
Villagers Wittewater het met die vier ligapunte wat hulle verdien het opgeskuif in die 5de plek met 38 punte.
In die ander kragmeting van die naweek het Never Despair gasheer gespeel vir die span van die buurdorp, Moorreesburg.
Die Tiere was net te sterk vir die besoekers en het met 18-12 geseëvier.
Riebeek United, Voorberg en Porterville het, soos Abbotsdale, dié naweek loslootjies gehad.
Hulle het dus almal nou een minder wedstryd as die res gespeel.
Al die spanne is volgens die bepalings weer die komende naweek in aksie.
Só lyk die program (tuisspanne eerste):
Wesbank teen Mamre
Porterville teen Saron
Abbotsdale teen Villagers Wittewater
Good Hopes teen Never Despair
Darling teen Riebeek United en
Moorreesburg teen Voorberg.
