Sports

Wesbank wen wipplank teen Mamre

Die eerstespan van Wesbank Rugbyklub het die afgelope naweek hul eerste posisie in die Swartlandstreek in die Boland Grootuitdaag behou toe hulle op die Alfastraat-sportterrein die span van Mamre geklop het.
Maklik was dit egter nie. Die besoekers wat vroeër in die eerste helfte van die seisoen op hul tuisveld die knie moes buig voor die koringboere (18-20) sou nie nóg ‘n sege op ‘n skinkbord vir Wesbank weggee nie.

Hulle het Saterdag by twee geleenthede die voortou geneem om met 3-7 en 13-14 voor te loop voor die tuisspan die knoop kon deurhak en met 23-17 gewen.
Ná die naweek is Abbotsdale steeds tweede op die punteleer met een meer wedstryd om nog te speel.
Lillies het Saterdag die besoekende span van Villagers Wittewater ontvang en ‘n oortuigende sege van 42-20 behaal.
Op Porterville het die derbykragmeting tussen Saron (tans derde op die punteleer) en hul bure van Porterville op laasgenoemde se veld plaasgevind.
In die twee spanne se vorige derbywedstryd vroeër die seisoen het Saron op hul tuisveld ‘n gemaklike sege van 43-19 behaal.
Porterville het Saterdag egter ander planne gehad en die tipiese derbywedstryd het in ‘n titaniese stryd ontwikkel.
Toe die eindfluitjie blaas het die telbord die storie vertel van ‘n gelykopstryd: 23-23.

Never Despair het Saterdag na Riebeek-Wes gereis om met Good Hopes kragte te meet.
In dié twee spanne se vorige kragmeting op die Alfastraat-veld in Wesbank het Never Despair met 19-17 gewen.
Die tuisspan het Saterdag eerste punte aangeteken toe hulle agter die besoekers se doellyn gaan kuier het. Daar was egter nog baie tyd in die wedstryd oor en Never Despair het stelselmatig op dreef gekom en die eerste keer die voortou geneem voor Good Hopes sake weer gelykop gemaak het.
Die besoekers was later te sterk en het die wedstryd met 16-24 gewen.
Op Darling het die melkboere die spanne van Riebeek-United ontvang. Darling se eerstespan het gemaklik met 38-20 geseëvier.
In die ander ligakragmeting het Moorreesburg tuis gespeel teen Voorberg en die kragmeting met 33-21 gewen.
Die komende naweek se bepalings (tuisspanne eerste) is:
Riebeek United teen Abbotsdale
Saron teen Darling
Mamre teen Porterville
Never Despair teen Wesbank
Moorreesburg teen Good Hopes en
Voorberg teen Villagers Wittewater.

Leave a Reply

error: Content is protected !!