Ervare roeiers jag vandeesweek Berg-titel
Deurwinterde groot name wat geskiedenis kan maak op ‘n verkorte, maar voorspelde nat Berg.
Dit is waarna toeskouers en deelnemers kan uitsien wanneer die 63ste Bergrivier Kanomarathon oor twee dae in die Paarl afskop.
Die wedvaart eindig Saterdag in Velddrif.

Robbie Herreveld, een van die mees suksesvolle roeiers in die geskiedenis van die Berg (hy het ses jaar agtereenvolgens eerste die eindpunt bereik) is steeds die jongste om op 19 jarige ouderdom in 1991 die Berg voor 289 ander deelnemers te wen.
Verlede jaar het hy op 52 weer deelgeneem en was in ‘n uitstekende posisie, maar het voor die laaste skof siek geword en moes met die tweede plek agter Thomas Lovemore (26) tevrede wees.
Herreveld is weer vanjaar onder die inskrywings en as hy dié ultramarathon wen, sal hy op 53 die oudste wenner nog wees van die Berg. Dié voormalige kampioen het reeds seker gemaak die teenstanders neem weer behoorlik kennis van sy voornemens toe hy verlede naweek die laaste voorbereidingswedvaart van Gouda na Bridgetown gewen het.

Die veel jonger Lovemore, wat vir Knysna roei, sal vanjaar weer daar wees om sy titel te vededig.
Naas dié van verskeie ander top-roeiers, sal hulle ook ‘n aanslag van die Berg se mees suksesvolle roeier en een van die beste marathonroeiers ooit moet afweer. Hank McGregor het nie minder nie as 13 keer die top-posisie op die podium ingeneem en agt daarvan was agtereenvolgens van 2005 tot 2012.
Meer onlangs het hy ook in 2022 (op 44) en 2023 (op 45) die louere ingeoes. Dit maak hom die oudste enkelwenner tot dusver.
Daar is vanjaar ook weer Swartlanders onder die eerste bykans 100 inskrywings tot ‘n paar dae gelede.
Ansuné Basson roei vir die Paarl-klub. Sy het reeds ses Berge suksesvol voltooi en het in die afdeling vir veterane (bo 40) ingeskryf. Basson het verlede jaar in ‘n tyd van 23:50:43.93 eerste in dié afdeling geëindig.

Febbie Malherbe, nog ‘n gebore Swartlander, roei deesdae vir Tygervallei. Hy het reeds vyf Berge voltooi en het in die afdeling vir meesters (bo 50) ingeskryf.
Die organiseerders het besluit om in belang van die veiligheid van die roeiers, die tweede skof van vanjaar se Berg te verkort. Die besluit is geneem weens “verskeie beduidende boomblokkades langs ‘n 7 km-lange stuk wat ‘n risiko vir die roeiers inhou”.
Dit is die kortste skof van die marathon en is nou verder verkort.
Die deelnemers sal nou Donderdag by die Goudabrug wegspring in plaas van Sonquasdrif waar die tweede skof normaalweg begin. Dié skof eindig steeds by Bridgetown.
Intussen voorspel weerkenners tans reën en nat toestande vir vanjaar se Berg.

Een van die legendes van die Berg, die 85-jarige Jannie Malherbe, wil vanjaar die marathon vir ‘n rekord 52ste keer voltooi. Hy het in 1962 aan sy eerste Berg deelgeneem en dit die daaropvolgende drie jaar gewen.
