‘Wonderlike Swartland móét verkoop word’ – toeragent
Swartland Toerisme, die nie-winsgewende maatskappy wat toerisme in die streek amptelik behartig, het Vrydag die eerste keer ‘n mini-toerismeskou vir toeroperateurs aangebied.
Die geleentheid, waar verteenwoordigers van van die streek se toerismeprodukte kort gesprekke met meer as 30 operateurs kon voer, is in samewerking met Wesgro by !Khwa ttu langs die R27 gehou.

‘n Propvol dag is afgesluit met askoek en Swartlandse wyn.
Van die operateurs kon nie uitgepraat raak oor die Swartland en wat hulle by dié netwerkgeleentheid ontdek het nie.
Een so ‘n agent, Candáce Edgar van Tailor Made Safaris, het gesê sy “is super-opgewonde oor alles wat ek vandag gehoor het.
“Ek is ‘n reisagent wat van Kwazulu-Natal af kom en het Kwazulu-Natal jare lank verkoop en het onlangs na die Kaap verhuis.
“As jy aan die Kaap dink, dink jy aan Kaapstad en die Tuinroete en Franschhoek en Stellenbosch en dis dit.
“So vandag was baie insiggewend. Julle het ‘n wonderlike produk en dit móét verkoop word. Mense móét daarvan weet.
“Dit is ‘n fyn lyn, want jy wil meer besigheid hê om te onderhou wat daar is, maar jy wil ook nie Franschhoek of Kruger word nie.

“Jy wil nie tot daardie vlak kom nie, want jy wil trots wees op die plaaslike gemeenskap en die kleiner en tuisbesighede.
“So dit is ‘n fyn lyn, maar julle het ‘n wonderlike produk.
“Ek is baie opgewonde om mense hierheen te begin stuur, want ek dink plekke soos hierdie beklemtoon nie net waaroor Suid-Afrika werklik gaan nie – dat hier nie net kommersiële toerisme is nie; hierdie gee die ware outentieke weergawe daarvan, maar hulle maak ook Suid-Afrika anders.
“Kaapstad is soos die “Mediterranean” van Afrika, maar Swartland is nie dit nie en dit maak dit anders.
“Wanneer jy na Suid-Afrika kom en jy ervaar hierdie, ervaar jy iets heeltemal heeltemal anders. Iets wanner jy huis toe gaan álmal van sal gaan vertel.
“So vandag was wonderlik. Doen dit asseblief weer.”

Sy het bygevoeg dat as iemand wat nog nooit tevore in die streek was nie, het sy “tot vier uur gelede nie eers geweet dat al hierdie dorpe bestaan nie”.
Edgar het gesê die spoednetwerksessies werk goed en sy kan gesigte by name sit, maar voorgestel dat die operateurs in die toekoms ook op ‘n bustoer deur die streek geneem word, sodat hulle van die Swartland se toerismeprodukte eerstehands kan ervaar. “Dan kan die mense fisies van hierdie plekke sien.”
Naas van die direkteure van Swartland Toerisme, het die Swartland se burgemeester en die speaker van die raad, raadshere Harold Cleophas en Michael Rangasamy, ook die netwerkdag by!Khwa ttu besoek.
!Khwa ttu is 19 jaar gelede geopen as ‘n San kultuur- en opleidingsentrum.
Dit dien as ‘n baken van San-erfenis, onderwys en bemagtiging, toegewy aan die bewaring van die tradisies en wyshede van die San van Suider-Afrika. En om dit met die wêreld te deel.

Naas gewilde akkommodasie-opsies vir tot 28 gaste en moderne erfenisuitstallings, beskik !Khwa ttu ook oor ‘n restaurant en konferensiefasiliteite. Daar is onder meer ook ses verskillende begeleide toere, bergfietsroetes en wildritte vir besoekers en daar word veral klem gelê op omgewingsvriendelike volhoubaarheid en die ondersteuning van die plaaslike gemeenskap.
Die Swartlandse ondernemings wat aan die dag deelgeneem het, is Delsma Plaas, Royal Hotel, Moorrees Deli, Swartland Wyn- en Olyfroete, Het Vlock Casteel, Kloovenburg, Meerhof Wines, Growing Paper, Marrian George, West Coast Safaris, Classic Country Tours, Cape Coast Expeditions, Wrights Gin, !Khwa ttu, Yzerfontein Accommodation, Evita se Perron/Darling Sweet, Contreberg en West Coast Horse Trails.
https://www.facebook.com/watch/?v=2261701440914110
Die bestuurder van Swartland Toerisme, Ann Heyns, het in ‘n persverklaring gesê die dag “is meer as net ’n netwerksessie. Dit is ’n bemarkingsgeleetheid vir betekenisvolle vennootskappe.
“Ons sê vir die reisbedryf: Hier is die beste van die Swartland. Wat kan ons saam bou?”
