Swartlanders kóók op wêreldverhoog
Twee inwoners van Riebeek-Kasteel, Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren, het pas voor top internasionale sjefs die eerste plek opgeraap in die Gourmand-wêreldkookboekkompetisie vir hul kookboek Skepselkos en die Engelse weergawe Earthling Food.
Nieuhaus spog vanjaar met twee 1ste plekke.

Sy en Jansen van Vuuren het by die toekenningsgeleentheid in Portugal die goue toekenning in die afdeling vir vegankookboeke losgeslaan, nadat hulle die ander deelnemers op die kortlys – onder andere ‘n Michelin-ster sjef – geklop het.
Oor die boeke wat die kortlys in dié afdeling gehaal het, sê die organiseerders “die veganboeke is nou uitstekend”.

Die ander boeke op die kortlys was Vegansk Kogebog deur Michelin ster-sjef Brian Pedersen (Denemarke), Vibrant Hong Kong Table deur Christina Wong (Hong Kong), Japanese style Plant Based Cooking deur Yumiko Kono (Japan) en Smakowitosci deur Ida Kulawik en Emilia Konkol-Pastuszak (Pole).

Die Gourmand-toekennings in die Estoril-konvensiesentrum het deel uitgemaak van vanjaar se Cascais Wêreldvoodselberaad.
Vir Niehaus en Jansen van Vuuren, wat albei in die laaste paar jaar na die Swartland verhuis het, is dit nie die eerste keer dat hul goud by dié wêreldtoekennings, wat vanjaar 30 jaar vier, kry nie.

Hul eerste kookboek saam, ook ‘n veganboek genaamd Daar’s ‘n Vegan op my Verandah, is twee jaar gelede as Gourmand se beste kookboek in die wêreld vir plantgebaseerde kos aangewys.
In Skepselkos/Earthling Food, ook ‘n boek oor plantgebaseerde kos, span hul kragte saam met agt ander bekende sjefs wat elkeen ‘n hoofstuk in die boek het met hul eie resepte saam met ‘n klompie resepte van die skrywers self.

Niehaus, voorheen moderadakteur van Sarie, is vyf jaar gelede ook vir haar boek Duinhuis vereer toe dit as die beste in sy kategorie in die wêreld aangewys is by die 25ste Gourmand-toekennings.
Jansen van Vuuren is ‘n kunstenaar, digter en ook ‘n ervare skrywer. Van sy vorige boeke sluit ook in Festive France en The Story of a House.
Niehaus het boonop vanjaar saam met ander bekroonde Suid-Afrikaanse sjefs nóg ‘n goud ingepalm in die leefstylafdeling vir resepte wat gratis afgelaai kan word.
Die Hearty-resepteversameling is ‘n projek van Pharma Dynamics onder die tema DASH (Dietary Approaches to Stop Hypertension).

Vir dié eksklusiewe versameling wat fokus op hartgesondheid het Pharma Dynamics die sjefs Monché Muller, Zola Nene, Herman Lensing, Isabella Niehaus en Heleen Meyer se resepte gebruik.
Met hul inskrywing wat goud gewen het, het hulle die ander deelnemers op die kortlys in dié afdeling van Armenië, Australië, Kanada, Timor-Leste en die Verenigde Koninkryk uitgestof.