Sports

Wesbank ry die golf; Lillies kry weer slae

As voorlopers in die Swartlandstreek van Boland Rugby se Grootuitdaagliga het Wesbank hul momentum van die laaste klompie rondes behou toe hulle Saterdag op hul tuisveld ‘n maklike sege behaal het.
Die Koringboere onder afrigting van oud-Springbok McNeil Hendricks, het in nat toestande vir Moorreesburg, een van hul jarelange aartsvyande, met 44-17 geklop.
Die rustydtelling in dié kragmeting was 20-7. Wesbank het 5 ligapunte behaal en hul voorsprong van 7 ligapunte behou.

Die ander kragmeting wat groot belangstelling gelok het, was dié tussen nommer twee en nommer drie nadat Saron ‘n paar weke gelede vir Abbotsdale verbygesteek het.
Dié twee spanne was Saterdag slaags op Lillies se tuisveld en dit was, ten spyte van die toestande, ‘n punteskouspel vir toeskouers met nie minder nie as 99 punte wat tussen die twee spanne aangeteken is.
Saron het vroeër die seisoen op hul tuisveld met 27-31 teen Abbotsale die knie gebuig. Ná daardie kragmeting was Lillies nog die ligavoorloper met Saron in die agtste plek.
Abbotsdale het egter hierdie ronde met 53-46 verloor en het nou uit hul laaste ses wedstryde slegs een kon wen.

Vir Lillies beteken dit waarskynlik ernstige gesprekke om hul weer op koers te kry nadat hulle verlede jaar die liga gewen het. Sake is egter nog ver van verby en hulle het nog een meer wedstryd om te speel as die voorste twee spanne.
Daar bly vir Wesbank en Saron nog sewe rondes oor en Lillies het nog agt wedstryde voor.
Die ander spanne wat nog goed geplaas is in die liga, is Mamre (tans vierde) en Villagers Wittewater (5de).
Mamre het Saterdag vir hul derbykragmeting na Darling gereis. Die Melkboere beleef nie die beste siesoen nie en hulle het met 19-25 teen die besoekers vasgeval.
Villagers Wittewater het die naweek besoek ontvang van Riebeek United en die kragmeting met 22-10 gewen.

In die ander wedstryde van Saterdag het Porterville op hul tuisveld ‘n wegholsege van 59-6 oor Never Despair behaal en Good Hopes het die besoekers van Voorberg met 38-8 geklop.
Die komende naweek se bepalings (tuisspanne eerste) is:
Mamre teen Abbotsdale
Never Despair teen Darling
Moorreesburg teen Porterville
Good Hopes teen Wesbank
Voorberg teen Riebeek United en
Saron teen Villagers Wittewater.

Leave a Reply

error: Content is protected !!