LatestSports

“Ou” manne straks 1ste en 2de op Berg

Die 63ste Bergrivier Kanomarathon loop vandag ten einde wanneer die roeiers die vierde en laaste skof van Zoutkloof tot Velddrif voltooi.
Die Berg, bekend as een van die moordendste ultramarathons in die wêreld, lewer jaar in en jaar uit nuwe rekords en soos sake oornag gelyk het kan die eerste twee plekke op die podium ‘n 100 lewensjare saam verteenwoordig.

Die twee mees suksesvolle roeiers in die geskiedenis, Hank McGregor (47) en Robbie Herreveld (53) is ná gister se derde en langste skof wat by Zoutkloof geëindig het, in onderskeidelik die eerste en tweede plek.
McGregor (11:37:43,40) het ‘n gerieflike voorsprong van bykans 10 minute (9 minute en 33 sekondes) en sal, as daar nie iets drasties verkeerd gaan nie, sy veertiende titel by Velddrif inpalm.

Herreveld (11:47:16,40), die jongste wat die Berg nog kon wen toe hy in 1991 op 19 jarige ouderdom die wennerskrans ontvang het, het op sy beurt ‘n voorsprong van 1 minuut en 42 sekondes op Siseko Ntondini (11:48:58,44) wat vanoggend in die derde plek wegspring.
Herreveld het die Berg ses keer agtereenvolgens gewen (1991 – 1996).
McGregor het sy eerste titel in 2000 ingepalm en daarna van 2005 tot 2012 agtereenvolgens. Hy was ook weer in 2015 en 2016 en 2022 en 2023 baas van die Berg.
Hy is reeds die oudste wenner en sal dié ouderdomsrekord net met twee jaar verhoog.

In die vroue-afdeling het Jenna Nisbet (12:44:08,58) oornag ‘n gerieflike voorsprong op Nix Birkett (12:51:56,17) en Neriyah Dill (12:56:07,74) gehad.
As nog een van die legendes van die Berg Jannie Malherbe (85) by Velddrif aankom, sal hy die nuwe rekord van 52 hou vir die meeste voltooide Berge.

Leave a Reply

error: Content is protected !!