Wesbank wen waterstryd, steeds gemaklik voor
In een van slegs die helfte van die Swartland-streek se Boland Grootuitdaagstryde wat Saterdag kon plaasvind, het Wesbank in ‘n wegwedstryd met Good Hopes kragte gemeet.
Never Despair het die spanne van Darling ontvang en Saron was gasheer vir Villagers Wittewater.

Die ander drie kragmetings (Moorreesburg vs Porterville; Mamre vs Abbotsdale en Voorberg vs Riebeek United) is weens die weer en nat speelvelde uitgestel.
Wesbank wat die laaste paar weke die eerste plek op die punteleer beklee, het te midde van moeilike speeltoestande steeds seker gemaak dat hulle die belangrike bonuspunt verdien toe hul op Reibeek-Wes vir Good Hopes met 18-47 ore aangesit het.

Saron, wat steeds in die tweede plek is, lê tans sewe ligapunte agter Wesbank nadat hulle Saterdag ook 5 ligapunte verdien het met hul maklike tuisssege van 41-19 oor Villagers Wittewater.
In die naweek se ander kragmeting het Never Despair die Melkboere van Darling ontvang en ook met vyf ligapunt weggestap toe hulle die kragmeting met 40-24 gewen het.

Volgens die bepalings speel Wesbank die komende Saterdag tuis teen die besoekers van Villagers Wittewater.
Die ander geskeduleerde wedstryde (tuisspanne eerste) is:
Moorreesburg teen Darling
Porterville teen Good Hopes
Abbotsdale teen Never Despair
Riebeek United teen Saron en
Mamre teen Voorberg
