Agri/BusinessEntertainmentGeneralNews

Swartlandskou lok meer as 21 000 besoekers

’n Rekordgetal van meer as 21 000 besoekers het verlede week oor vier dae die Swartlandskou op Moorreesburg bygewoon.
Só sê die skoubestuur in ‘n mediaverklaring. Hulle is nog besig om die finale besoekersyfers te finaliseer.
“Daar is jaarliks gesonde mededinging onder die Swartlandskou se uitstallers om een van die skou se gesogte pryse in die afdelings vir masjinerie, motor en landbounywerheid op te raap.

Die landboumaatskappy Afgri, een van die Swartlandskou se ankerborge, het as deel van hul uitstalling die nuwe John Deere T6700-stroper by die skou vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel. Hul uitstalling het aan die Afgri-span die Nulandis-wisseltrofee vir die beste uitstalling in die afdeling vir implemente met ‘n totale waarde van meer as R15 miljoen besorg.
Hierdie gesogte beesskou lok elke jaar van die land se voorste telers sowel as talle skougangers wat die top-diere wil kom aanskou. Die beesafdeling het vanjaar weer gasheer gespeel vir verskeie rasse, waaronder Romagnola vir die eerste keer.

Die De Panne Angusstoet spog met die uitsonderlike prestasie om vanjaar in die Interraskampioenskappe die gesogte Gouebeker-trofeë vir beide die Opperste Kampioen manlike dier en Opperste Kampioen vroulike dier in te palm. Foto verskaf

Die beesskou het vanjaar op ’n geskiedkundige noot afgesluit toe die De Panne Angusstoet van Moorreesburg in die Interraskampioenskappe beide titels vir die Opperste Kampioenbul sowel as Opperste Kampioenkoei verower het om met albei Goubeker-trofeë weg te stap. Die organiseerders sê dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Swartlandskou dat ’n teler beide hierdie titels verower.
Perde is oor die jare heen een van die asse waarom die Swartlandskou draai en vanjaar was dit nie anders nie. Die nasionale SA Vlaamperdkampioenskappe sowel as die Wes-Kaapse Saalperd-streekskampioenskappe is hier aangebied. Die SA Vlaam wa-spanne van agt is elke jaar ’n groot hoogtepunt en Saterdagmiddag het Martin Eksteen se span dié kampioenskap gewen.

Altesaam 73 SA Vleismerino’s van ses telers het vanjaar aan die SA Vleismerino Super 10-kampioenskappe deelgeneem. Jannie du Toit, van die Vlakkerug Vleismerinostoet op Riebeek-Wes was die ontvanger van die Victor Ludorum.
In die Merino-afdeling het Johan Kotzé van Korhaansrug Merino’s op Moorreesburg die Grootkampioen Merinoram ingeskryf, terwyl Eben Schellink van Swartland Merino’s buite Malmesbury, die trofee vir die Reserwe Grootkampioen Merinoram ingepalm het.
Saterdag het skaapskeerders ’n geleentheid gehad om hul staal te wys. Die Skaapskeer- en Wolhanteringskampioenskappe is in samewerking met die SA Skaapskeerfederasie en dr. Jasper Cloete van die Elsenburg Landboukollege aangebied. Skeerders kon meeding om vir die 2026 Nasionale Kampioenskappe te kwalifiseer. In die ope-skeerafdeling het Hans van Schalkwyk die 1ste, Zakobane Qamakhana die 2de, Dumisani Xhasa die 3de en Willie Vusumzi die 4de plekke behaal.

Die Swartlandskou is nie net ’n vertoonvenster vir die beste wat die landboubedryf het om te bied nie, maar het ook vanjaar weer as ’n platform gedien vir ’n reeks invloedryke paneelbesprekings en seminare. Werklike uitdagings en geleenthede in die landboubedryf is belig.
Een van die kernfokusse van een só ‘n sessie was ons land se uitvoergereedheid. Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het saam met diplomatieke verteenwoordigers van lande soos Kanada, Italië, Nederland en Namibië hul insigte gedeel oor internasionale markgeleenthede en handelsbetrekkinge.

Paneelbespreking. Agter staan Jacques Bester (president van Swartlandskou), David Joubert (munisipale bestuurder van Weskus Distriksmunisipaliteit), Sophie Bel (Frankryk se konsul-generaal in Kaapstad), Elizabeth Theron (Namibia se konsul-generaal in Kaapstad), Jannie Strydom (hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap), Saima Sakaria (Namibiese konsul), Villiers Loubser (president van Agri Wes-Kaap), Heinie du Toit (vise-president van Agri Wes-Kaap), Giulio Mignacca (Italiaanse konsul in Kaapstad) en Alex George (senior handelskommissaris van Kanada). Voor is Azrial Scheepers (burgemeester van die Cederberg), raadsheer Boffie Strydom (burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit), dr. Ivan Meyer (Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme), raadsheer André Truter (burgemeester van Saldanhabaai) en Johan van der Hoven (burgemeester van Matzikama). Foto verskaf

Voorts was die produsenteseminaar ook weer ’n groot trekpleister met voorste sprekers soos die ekonoom Theo Vorster, prof. Johan Fourie (ekonomiese geskiedenis), dr. Tobias Doyer (landbou-ontwikkeling) en die politieke ontleder JP Landman. Hul het waardevolle perspektiewe oor die ekonomie, volhoubare ontwikkeling en die toekoms van die landbousektor op eie bodem gedeel.
Nog ‘n insiggewende aanbieding was die InteliGro Intelekt Solutions-dag waar die fokus geval het op praktiese landboukennis en werkbare oplossings wat regstreeks tot volhoubare boerdery bydra.

Jacques Bester, die president van die Swartlandskou, het sy dank uitgespreek teenoor alle vertoners, uitstallers, vennote en borge vir hul betekenisvolle rol in die sukses van vanjaar se skou. Hy beklemtoon dat die ekonomiese uitwerking van die skou beduidend is met ’n groot reikwydte.
“Die hele gemeenskap – van die kleinste tot die grootste ondernemings – pluk die vrugte daarvan. Die groot getal besoekers en die positiewe beeld wat dit verder uitdra, bevestig dat die Swartlandskou ’n belangrike vertoonvenster vir die Wes-Kaap is.”
Bester het ook sy waardering uitgespreek teenoor die plaaslike gemeenskap, bestuurslede, vrywillige werkers en die munisipaliteite van Swartland en die Weskus Distrik vir hul toegewyde samewerking. “Die kern en hartklop van die Swartlandskou is die mense van Moorreesburg wat hande vat om ’n skou van gehalte aan te bied waar die landboubedryf en gemeenskap sentraal staan,” sê hy.
Die datums vir die 2026 Swartlandskou is 2 tot 5 September.

Leave a Reply

error: Content is protected !!