Entertainment

Dis weer tyd vir Darling se blommeskouspel

Van die Leeubekkie tot die Bobbejaantjie, Kalossie en Viooltjie, Darling Ivory en Tjienkerientjee, die Sysie, Poublom en die Kalkoentjie, Wilderoosmaryn en die Spinnekopblom, die Pypie en die Kelkiewyn, Aronskelke sonder tal en soveel meer.

Darling is gereed om, soos elke jaar die laaste baie dekades, op hierdie derde naweek in September weer behoorlik te blom vir besoekers van heinde en ver.
Die lente-veldblomskouspel met ‘n verskeidenheid subhabitats maak die Darlingdistrik uniek en die gewilde jaarlikse Veldblomskou van 19-21 September bied ‘n besondere blik op dié natuurwonder en ook blomme wat nie altyd vir die publiek so toeganklik is nie.

Die Darling Veldblomskou by die Darling Country-klub bied nie net die unieke veldblomuitstalling waaraan vrywilligers dae lank werk nie, maar dit is ook ‘n fees vir die hele gesin met volop vermaak, wynproeë, ‘n braaitent met kontantkroeg, kinderspeelarea en ponieritte en ‘n uitstalling van veteraanmotors en -trekkers.
Besoekers kan ook weer uitsien na ‘n groot buitenshuise mark met ‘n wye verskeidenheid ander produkte wat beskikbaar is, asook trekkerveldritte en ‘n pendeldiens na ander gewilde besoekpunte in Darling.
Voorts kan besoekers elke dag om 11:00 en 14:00 na praatjies luister oor die renosterveld en bewaring. Sondag om 12:30 is daar ook ‘n praatjie oor die Chelsea Blommeskou.

Die naweek bied besoekers ook die gulde geleentheid om van die veldblomreservate in en om Darling te besoek en die skouspel van die natuur van nader te ervaar. Soms is die wonder nie daar ver en in die oorvloedige kleure nie, maar juis by jou voete in elke unieke klein blom rondom jou.
Tussen 11:00 en 15:00 word as die beste tyd van die dag beskou om die blomme oop te sien. Sonnige dae is ook altyd beter.
Daar is die Darling Renosterveldreservaat (aan Kalkoentjiestraat), die Darling Groenekloofreservaat (agter die Darling-begraafplaas langs die R315 – ingang langs die DBV), die Tienie Versfeld-natuurreservaat (langs die R315 – 13 km buite Darling op pad na Yzerfontein), Oudepost private Veldblomreservaat (Oudepost-plaas/Duckitt Orgideekwekery, 3 km buite Darling op pad na Mamre), die Waylands private Veldblomreservaat (Waylands-plaas 4.6 km buite Darling op pad na Mamre) en die Harold Versfeld-natuurreservaat (Contreberg-plaas, ongeveer 10 km buite Darling, langs die R307 op pad na Mamre).

Die Veldblomskou by die buiteklub in Jakarandastraat duur elke dag van Vrydag tot Sondag van 09:00 tot 17:00
Kaartjies is beskikbaar op Quicket en by die hek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!