Malmesbury het ‘n nuwe geskiedkundige (plaas)teater
Die storie en die droom van Die Scrapyard-teater kom al lank, vertel Paulina van der Westhuijzen. Rozenburg buite Malmesbury is een van die geskiedkundige plase in die distrik en is reeds in 1707 deur Willem Adriaan van der Stel uitgegee aan die eerste eienaar, Paulus Heijns.
In 1818 het ene Daniel du Toit die plaas gekoop en die woonhuis in 1838 verbeter, soos steeds op een gewel geskryf staan.
Sedert 1898 is die plaas in die Van der Westhuijzenfamilie se besit.

Van die meeste aanbouings is daar mondelinge verhale, maar oor die agt groot muurskilderye in die sogenaamde ‘skildersaal’ aan die suidekant van die huis, bestaan daar geen rekord nie.
Dié skilderye beeld Europese tonele uit met diere, kastele ‘n klein mannetjie wat ‘n reuse-vis vang en die pars van druiwe.
Paulina (haar man, Uys, is een van die vierde geslag Van der Westhuijzens op die plaas) sê al droom sy lankal om die huis met die unieke karakter vir ‘n venue of teater aan te wend sodat meer mense dit ook kan sien en ervaar, het sy nooit geweet hoe om dit aan te pak nie.
Tot ‘n vriendin se suster vroeër vanjaar gevra het of sy daar kan kom optree.
Toe is die deur van die Die Scrapyard-teater as’t ware oopgesluit met Lancea Crafford se Karoo Lady.

Paulina vertel haar oorlede skoonma (Tannie Anna) wat ook ‘n liefde vir erfenis en die uitvoerende kunste gehad het (sy het dekades gelede drama onder Babs Laker studeer) sou baie hiervan gehou het.
Die nuwe teater se naam kom juis van jare gelede toe Tannie Anna van die gewilde kunsmark in Bloemfontein teruggekeer het met ‘n sinkplaat-bordjie waarop geverf staan: “Seën hierdie Scrapyard.”
“Ek koester geroeste goed. Van ‘n geroeste beker tot ‘n geroeste hek. Die bordjie het maar altyd tussen al my ou goed gehang. Almal dink die goed is lelik, behalwe ek.”
Toe ons begin dink aan ‘n naam, toe word dit Die Scrapyard-teater.

Elzabé Zietsman het onlangs daar opgetree. Paulina sê die teater in daardie einste ‘skildersaal’ is klein en intiem. Sy bied ook ná die vertoning ‘n ete aan in die eetkamer en kan tans tot 38 mense huisves.
Sy wou aanvanklik een keer per kwartaal ‘n vertoning hou en kan dit straks aanstaande jaar meermale begin doen.
So wie is volgende daar op die planke? Sy sê sy gesels tans met kunstenaars soos Philip Moolman, Amore Bekker, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Pietman Geldenhuys.

*En die muurskilderye?
Sommige glo dit is gedoen deur Italiaanse krygsgevangenes. Die kultuurhistorikus prof. Matilda Burden het egter nadat sy hulle ‘n dekade of wat gelede onder oë gehad het, gesê: “As die plaas Rozenburg reeds vanaf 1898 aan dieselfde familie behoort, sou hulle sekerlik geweet het as daar Italiaanse krygsgevangenes in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog op die plaas was. Daar was nie Italiaanse krygsgevangenes tydens die Eerste Wêreldoorlog in ons land nie.”
“Die skilderye van Rozenburg lyk ook baie ouer as 70 jaar (nou 80 jaar) gelede se werk.”
Die oorsprong van die skilderye bly dus steeds ‘n raaisel.

