Olyffees herleef met nuwe baadjie
Nadat die laaste Riebeekvallei Olyffees vroeg in Mei 2019 gehou is, was die wiele aan die rol vir die 2020-fees, maar Covid 19 het ‘n stokkie daarvoor kom steek en dit is sedertdien nie weer gehou nie.
Dié gewilde fees het in 2000 begin om die, toe nog, klein olyfbedryf in die vallei te bevorder.
Die bedryf hier het intussen gegroei en plaaslike produsente het ook al ‘n lang rits toekennings die afgelope 25 jaar ingepalm.

Die Olyffees het destyds gegroei tot een van die grootste in die provinsie en by geleentheid meer as 10 000 besoekers gelok.
Nou, ná ‘n afwesigheid van 5 jaar, herleef die fees die komende naweek (27 en 28 September) in ‘n ander gedaante en ook net op die dorpsplein op Riebeek-Kasteel.
Daar is wel instansies in en om die vallei wat oor die naweek ander aktiwiteite aanbied om feesgangers se ervaring verder aan te vul en seker te maak hulle kan tot laat kuier.

Die fees, nou bekend as die Swartland Olyffees, word deur Swartland Toerisme aangebied in samewerking met die olyfbedryforganisasie SA Olive.
Saterdag en Sondag se program op die plein sluit vermaakoptredes, kosdemonstrasies, kaas-, wyn- en olyfproeë met plaaslike en besoekende olyfprodusente asook kindervermaak in. Daar is meer as 50 uitstallers.
Musiek sal op beide dae verskaf word deur die saksofoonspeler Mario Arnold, die reggaegroep The Rivertones en die pop/folk-groep RAAF (voorheen Bottomless Coffee Band).

Saterdag lewer die sjefs Cobus Bekker en Jenny Morris kosdemonstrasies met Nicole Neethling en Pieter Malan wat Sondag aan die beurt kom.
Aanbiedinge deur SA Olive sluit ‘n verskeidenheid proeë van intensiteit in geure asook die olywe uit verskeie streke in.
Koswaens en ander fynproewerstalletjies sal ‘n verskeidenheid koskeuses en -geure bied.

Die kinder/familie-area sal op beide dae vir die volle duur van die fees (10:00 tot 17:00) oop wees en Sondag is daar, naas die speelaktiwiteite, ook ‘n towervertoning, ballonvormvertoning en kunssessies.
Al duur die fees daagliks van 10:00 tot 17:00, is daar Saterdag van 17:10 af ook ‘n grootskerm om die rugby tussen Suid-Afrika en Argentinië te kyk.
Besoekers het meer as een kaartjie-opsie, waaronder een vir ‘n spesiale BBP-bederf. Die naweek se kaartjies is beskikbaar by tixsa .
Die volledige program kan hier deurgeblaai word.
