FEATUREDNews

S Toerisme se netto inkomste daal; Rheeder nuwe direkteur

Daar is uitdagings waaronder minder geld (netto) wat Swartland Toerisme van die munisipaliteit ontvang.
Só het die voorsitter, Ashley Stone, verduidelik op dié nie-winsgewende maatskappy se jaarvergadering by Nuweplaas in die Riebeeksrivier.
Die toekenning van die munisipale fondse (Swartland Toerisme se hoofbron van inkomste) het verlede jaar verander toe daar vir die eerste keer getender moes word.

Met die nuwe tender het die BTW, wat nou met die nuwe bestel vir die eerste keer betaalbaar is, beteken Toerisme het effektief minder geld om hul werk te doen. Die huidige jaarlikse kontantbedrag vanaf die munisipaliteit beloop R1,58 miljoen en sluit BTW in.
Stone het gesê hulle kyk nou na korporatiewe borgskappe as opsie om fondse aan te vul om die “Swartland as wêreldklas-bestemming te bemark”.
Die begrote bedrag daarvoor is R500 000.

Hy het ook verduidelik dat ledegelde uit elk van die dorpe (daar word tans volgens die mandaat van 5 gepraat – Yzerfontein, Darling, Moorreesburg/Koringberg, Malmesbury en die Riebeekvallei) geoormerk word vir projekte en aksies wat daardie dorpe direk bevoordeel.

Daar is voorts ‘n begrote inkomste van R180 000 uit projekte deur die oorkoepelende Swartland Toerisme “hoofkantoor”.
Die totale begrote inkomste is R2,355 miljoen met ‘n totale begrote uitgawe van R2,472 miljoen waarvan R215 193 vir BTW
Swartland Toerisme begroot dus vir ‘n verlies van R116 553.
Stone het gesê hy glo egter dit sal so ‘n groot verlies wees nie.


Ten opsigte van die die onderskeie dorpe se ledegelde wat vir elke dorp self aangewend sal word, word daar begroot vir R40 600 uit Darling, R47 500 uit Malmesbury, R19 100 uit Moorreesburg, R84 400 uit die Riebeekvallei en R86 200 uit Yzerfontein.
Daar is ‘n nuwe lidmaatskapmodel met verskillende vlakke, kostes en voordele. Die syfers is gebaseer op ‘n projeksie dat 50% van lede die goedkoopste opsie sal uitoefen, 30% die middelste opsie en 20% die duurste opsie.

Adré Rheeder (links) is tot nuwe direkteur van Swartland Toerisme verkies. Saam met hom is drie ander direkteure, Ashley Stone (voorsitter), Nicole Neethling en Nelius Volschenk. Die vyfde direkteur, Andro Engelbrecht, kon nie die vergadering bywoon nie.

Op die jaarvergadering is daar ook besluit om die maatskappy se memorandum van inlywing te wysig om te verseker dat elkeen van die genoemde vyf dorpe verteenwoordiging op die direksie het. Daar het onlangs ‘n vakature ontstaan met die uittrede van Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van die Swartland Wyn- en Olyfroete en lede het vir ‘n nuwe direkteur gestem. Dié pos is nou gevul deur Adré Rheeder van Yzerfontein.
Die direksie bestaan tans uit 5 lede maar kan nou vir die interim na sewe vergroot word.
Die ander vier huidige lede van die direksie is Stone (voorsitter, Riebeek-Kasteel), Andro Engelbrecht (Malmesbury), Nicole Neethling (Malmesbury) en Nelius Volschenk (Riebeek-Kasteel).

Leave a Reply

error: Content is protected !!