Wesbank, Abbotsdale se Top 12-roete lyk só
Die eerste salvo’s is gevuur met die bekendstelling en trekkings in Boland Rugby se Top 12-kompetisie.
Die eerste ronde van dié kompetisie tussen die ses streekwenners en ses naaswenners van die onderskeie streke in die Grootuitdaag word op 11 Oktober beslis.
Al die wedstryde sal op die internet uitgesaai word en daar sal ook TV-skeidsregters by elke kragmeting aan diens wees.

Wesbank en Abbotsdale is die twee top-spanne wat die Swartland in die Top 12 gaan verteenwoordig.
Ná die trekking vroeër vandag is Wesbank in Groep A geloot saam met Roses United, Botrivier, Vanrhynsdorp Eagles, Vredenburg en Villagers Worcester.
Abbotsdale is in Groep B saam met Robertson, Saldanha, Delicious Noordwes, Safcol United en Hillcrest United.
Wesbank, die Swartland se kampioen vir 2025, speel in die eerste ronde op 11 Oktober tuis teen Vanrhynsdorp Eagles (17:00). Die Koringboere se volgende groepwedstryde is op 18 Oktober weg teen Vredenburg (15:00), op 25 Oktober weg teen Botrivier (17:00), op 1 November tuis teen Villagers Worcester (15:00) en op 8 November tuis teen Roses United (15:00).

Abbotsdale speel in die eerste ronde op 11 Oktober weg teen Delicious Noordwes (17:00). Lillies se oorblywende groepwedstryde is dan op 18 Oktober tuis teen Saldanha (15:00), op 25 Oktober weg teen Hillcrest United (15:00), op 1 November weg teen Robertson (17:00) en op 8 November tuis teen Safcol United (15:00).
Die halfeindrondewedstryde tussen die vier spanne wat bo eindig (die voorste twee in elke groep) word op 15 November om 14:00 en 16:00 onderskeidelik op Boland Stadion op Wellington beslis. Die eindstryd om die titel vind die daaropvolgende Saterdag 22 November om 16:00 ook op Boland Stadion plaas.
