Reaksievoertuig hierdie feestyd ingespan
Die wetstoepassingsagentskappe op die Weskus het weer hande gevat met die private sektor om ‘n spesiale reaksievoertuig vir die volgende 14 dae in die Swartland te ontplooi as deel van hul operasies.
Dit is die tweede jaar wat die Swartland Gemeenskapsveiligheidforum dié inisitief in samewerking met die Weskus Distriksmunisipaliteit, Swartland Munisipaliteit en die Polisie kon aktiveer, het die operasionale veiligheidskenner en inwoner van Malmesbury, Uys van der Westhuijzen, aan dié courant gesê.

Die voertuig is gister by Ganzekraal aan die Weskus bekendgestel en Van der Westhuijzen verduidelik die voertuig sal deurgaans met drie spesialisbeamptes – ‘n ER24-nooddiensbeampte, ‘n lid van die polisie asook ‘n lid van Swartland se wetstoepassing – beman wees.
Wanneer daar ‘n insident of ongeluk is, kan beseerdes op die toneel intussen gestabiliseer word terwyl hulle wag vir die ander nooddienste.
Die voertuig is in verbinding met die Weskus-polisiedistrik se operasionele bevelsentrum asook die Weskus Distriksmunisipaliteit se rampbestuursentrum.

Van der Westhuijzen, wat ook op die minister van verdeging en militêre veterane se nasionale reserwemagraad en as voorsitter van Agri Wes-Kaap Landelike Veiligheid dien, het die borge uit die privaatsektor bedank wat die inisiatief moontlik gemaak het. Die borge sluit in Fuzion Nissan, Agri Malmesbury, Vodacom, CK Signs Design and Laser, Swartland Wynkelder, Khuselo Groep, SKFD, JL Design Studios, Paardeberg Panelbeaters, Tyremart, Pay my Fines, en Dogs & All.
Die voertuig sal tot die vyfde Januarie ontplooi word. “Dit is die besige tyd en ons wil die reaksietyd so vinnig moontlik maak vir die mense in die geval van enige insidente, het die polisie se distriksbevelvoerder van die Weskus, genl.maj. Sizakhele Dyantyi, aan dié courant gesê. “Hulle sal dan van die toneel die nodige rugsteun kan ontbied.”

Al is een voertuig nie genoeg nie, “kan ‘n mens mos nie groot begin nie. Jy begin altyd klein.”
Hy het bygevoeg dat die privaatsektor nou ook “kan sien hoe effektief dit kan wees in vennootskap met die polisie om misdaad en insidente in ‘n bepaalde gebied te beperk.”
Die beamptes is ook toegerus met liggaamskameras wat hul behulpsaam kan wees tydens insidente.
Die Swartlandse raadslid, AK Warnick (voorsitter van die Swartland Gemeenskapsveiligheidforum), het gesê die voertuig is ‘n lewensreddende hulpmiddel wat vinniger reaksie en beter koördinering moontlik maak.
“Ons fokus bly op die beskerming van lewens en padveiligheid en om sigbare dienslewering te verseker.”
