‘Biosekuriteit g’n ‘n keuse – dit is wet’
Biosekuriteit op veeplase is nie ‘n keuse nie. Dit is wet.
So het die veearts dr. De Wet Barnard, een van die sprekers op die spesiale biosekuriteitsinligtingsdag van MSD en Saamstaan Boerdery op Malmesbury, gesê.
Die belangrikheid van biosekuriteit is opnuut baie aktueel nadat bek- en klouseer (BEK) vir die heel eerste keer in die Wes-Kaap bevestig is.
Dié uitbraak by Gouda het rolspelers genoop om baie vinnig aksie te neem. Met die jongste inligting en uitslae lyk dit nie of die siekte verder versprei het nie.

Vir jare was dit net die drie Kaapse provinsies wat nooit ‘n BEK-uitbraak gehad het nie. Toe tref dit die Oos-Kaap in Mei verlede jaar en nou ook die Wes-Kaap. Dit beteken die Noord-Kaap is die enigste wat nog nie deurgeloop het nie.
John Dürr, voorsitter van Agri Malmesbury, het almal verwelkom vir wie die welstand van hul diere belangrik is en gewys op die Bybelse opdrag: “Gaan sorg vir die visse, die voëls en die diere”.

“In die Wes-Kaap het ons al die jare tot nou eintlik in ‘n droomwêreld geleef waar alles mos net reg gedoen word of behoort reg gedoen te word.
“Ons het altyd na die ander provinsies gekyk en in die stilte vir mekaar gesê: dankie dat dit nie hier by ons is nie.
“Almal moet nou hande vat – nie ‘n klip optel en na iemand gooi nie. Gebruik jou gesonde verstand. Kom ons werk saam.” Dürr het veeboere ook aangemoedig om by georganiseerde landboustrukture aan te sluit om die nodige inligting en ondersteuning te kry.
Barnard, tegniese veearts by MSD Dieregesondheid, het oor oordraagbare siektes gesê as daar enige geval binne ’n kudde bevestig word, beteken dit die hele kudde word as besmet beskou, ongeag of ander diere tekens toon.
“Dieresiektes het dikwels stil of moeilik opspoorbare infeksies, kan vinnig versprei deur direkte of indirekte kontak, en hou beduidende dieregesondheid-, handels- of openbare gesondheidsrisiko’s in.”
Hy het gesê in terme van die huidige dieregesondheidswet, wet nommer 35 van 1984, is “jy wetlik verplig om alle moontlike stappe te neem om te keer dat jou diere siek word (nommer 1) en (nommer 2) dat ‘n siekte van jou plaas af versprei.

“Biosekuriteit is die wet. As jy nie biosekuriteitsmaatreëls in plek het nie, oortree jy die wet.
“Dit is nie ‘n stel noodmaatreëls wat tydens ‘n siekte-uitbraak toegepas word nie, maar moet deel vorm van elke plaas se standaardbedryfsprosedure.
“Ons gaan in hierdie land nie bek-en-klou onder beheer kry, tot iemand nie krimineel vervolg is ni
Die nodige papierwerk moet getrou bygehou word, toegangsbeheer en die mense- en voertuigverkeer op plase moet beperk en noukeurig gemonitor word en al die nodige higiëne moet deurgans gehandhaaf word.
Plaashekke moet toe wees en omheinings moet heel wees om enige vrye beweging te verhoed.
Hou vergaderings/ontmoetings verkieslik op die dorp om besoekers op plase te beperk.

Hou nuwe diere vir 28 dae ná aankoms op die plaas in kwarantyn, ten minste 100m weg van die bestaande kudde. Dit sal ook verstandig wees om relevante toetse gedurende hierdie tyd te herhaal.
Streng higiëne van almal wat met die diere werk, is baie belangrik. Dit sluit skoon persoonlike beskermende toerusting, wat ten alle tye op die plaas agterbly, en voetbaddens in.
Barnard het gesê “patogene (virusse, bakterieë, protosoë) kan maande lank in organiese materiaal oorleef”.
Dit is daarom belangrik om alle afval uit fasiliteite waar diere hanteer word, te verwyder.
“Alle toerusting wat met diere in aanraking kom, moet deeglik skoongemaak en ontsmet word.”
“Maak seker jy gebruik ‘n effektiewe oppervlakontsmettingsmiddel vir vee.”
