‘Merkwaardige’ PHS-matrikulant ontvang minister se toekenning
Die jaarlikse spesiale ministeriële toekenning van die Wes-Kaap vir ‘n matrikulant van die vorige jaar is vandag aan Roux Basson van Piketberg oorhandig.
Roux is vroeg in sy matriekjaar deur ‘n geweldige terugslag getref toe osteosarkoom by hom gediagnoseer is. Dit het vereis dat hy onmiddellik met intensiewe chemoterapie moes begin.
Hy het die fisiese en emosionele spanning ervaar wat met sulke behandeling gepaard gaan.
Ten spyte hiervan, vertel Hoërskool Piketberg se skoolhoof, Mariette Koen, was Roux toegewyd aan sy studies en skoolwerk.

“Gedurende die weke toe hy nie chemoterapie ontvang het nie, het hy gereeld skool bygewoon en voortgegaan om alle akademiese vereistes te voltooi, insluitend toetse en eksamens – selfs op dae toe hy baie baie olik en goor gevoel het.”
In Julie verlede jaar het Roux ‘n knievervangingsoperasie ondergaan as deel van sy
kankerbehandelingsplan. ‘n Groot gedeelte van sy femur is ook verwyder en vervang. Hierdie groot prosedure het aansienlike hersteltyd vereis, gevolg deur voortgesette chemoterapie. “Selfs gedurende hierdie uitdagende tydperk het Roux volhard met sy akademiese verantwoordelikhede.

“Ons interskole-wedstryde was gedurende sy hersteltyd na afloop van die operasie.”
Roux het die geleentheid in ‘n lêende posisie in sy volle skooluniform agter-in sy ma se motor, wat langs die rugbyveld geparkeer was, bygewoon (“alhoewel niemand hom kon sien nie!”).
Koen voeg by: “Die merkwaardigste is dat Roux sy Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamens afgelê het terwyl hy nog chemoterapie ondergaan het. Sy vasberadenheid, deursettingsvermoë en positiewe houding is werklik inspirerend.
“Roux het sy laaste behandeling voltooi ‘n paar dae voordat die matriekuitslae uitgereik is. Hy het matriek geslaag met ‘n vierde klasposisie, ‘n gemiddeld van 78,1% en drie vakonderskeidings.”
